Joshua is op 33 weke gebore. Dokters het hom met 'n waterhoof of “water op die brein” soos dit algemeen bekendstaan, gediagnoseer.

Hy het in sy kort lewe tot dusver al ses operasie ondergaan, mees onlangs ’n heupoperasie wat sy babalyfie die volgende ses weke in gips sal hou. Drie van dié operasies was op sy brein.

Foto: Facebook.

Tog het geen van die operasies al sy borrelende persoonlikheid gedemp of verander nie, vertel sy ma oor haar enigste kind. “Hy hanteer pyn soos ’n kampioen. Ek is verstom oor sy veerkragtigheid en is so trots op hom.”

Die plan is om Joshua eindelik vir stamselterapie by die Duke-universiteit in Noord-Carolina, 'n deelstaat in die VSA, te neem.

Hy sal waarskynlik intussen nog ’n breinoperasie moet ondergaan omdat die pypie wat aan sy brein geheg is om oormatige vloeistof na sy maag te dreineer, geneig is om onklaar te raak, verduidelik Phillecia aan huisgenoot.com. “Ons sal nooit kan sê hoeveel operasies hy nog sal moet kry nie, maar ons bid daar sal nie meer wees nie,” vertel sy oor die foon.

“My hart loop oor van vreugde wanneer ek sien hoe moedig hy teen die siekte baklei,” voeg sy by.

Joshua se omtrek van sy kop het tydens geboorte 45 cm gemeet, ’n totaal wat groter as die lengte van sy liggaam was. Foto: Verskaf.

Sy pa, Bradley (36), sê: “Om elke dag eenvoudige goed te doen soos sit, staan, kruip, speel, eet of drink op sy eie is vir Joshua 'n uitdaging.”

Die vloeistof op sy brein tas Joshua se gesondheid ook op ander maniere aan. Hy kan byvoorbeeld omtrent glad nie sien nie.

Foto: Facebook.

“Ons het deur terapie geleer om Joshua se oë te wees. Ons verduidelik alles vir hom in detail: wat hy eet, om dit te ruik, om sy mond oop te maak, om ’n hap te vat, watter kleur die lepel is en of hy van die kos hou,” vertel Phillecia.

Verder doen hulle elke dag oefeninge om sy kernspiere te stimuleer en sy bors en nek sterker te maak. “Hy het pas geleer om ’n paar sekondes lank op sy eie te sit,” vertel sy trots.

Phillecia en haar man werk albei voltyds, maar wanneer hulle by die huis kom, is dit tyd vir Joshua se terapie.

“Hy het ons laat besef hoe sterk ons eintlik is,” sê Phillecia. “Hy het ons lewe met soveel liefde en geluk verryk. Hy het ons sterker en dapperder as ooit gemaak.”