LIZETTE BOOYS (29), WISKUNDEONDERWYSERES

Wiskunde het nog altyd vir my maklik gekom.

Op skool was dit my favourite vak.

As ek huiswerk gehad het, het ek eerder my wiskundehuiswerk gedoen as die ander vakke se huiswerk.

As ek gesukkel het met ’n wiskundesom, was dit éérs vir my lekker.

Ek dink ’n mens geniet iets wat jy maklik vind en wat jy gou kan leer.

Wiskunde is ’n oefenvak, en omdat ek so mal is daaroor, was dit ’n ding wat ek nie omgegee het om te oefen nie.

Mense het oor die jare altyd vir my gesê ek is slim.

Dan sê ek: Nee, ek is geseënd met ’n talent.

Nes ander mense met verskillende talente geseënd is. Wiskunde is die gawe wat ek gegee is.

Onderwys is in my bloed. Al my aunties en ooms is onderwysers.

Daai tyd was onderwys al wat hulle kon kies.

My een oom, Henry Booys, is ongelukkig oorlede, maar hy was ’n baie goeie en inspirerende onderwyser.

Hy sou nou in Mei 60 jaar oud geword het. Hy het sy meestersgraad ontvang net ’n paar maande voor hy gesterf het.

Toe ek op skool was, wou ek heeltyd iets anders geword het.

Ek wou forensies gedoen het, en toe wou ek ’n argitek word soos my pa, Trevor Booys.

My ma, Elizabeth, het gesê daar gaan altyd kinders wees wat moet leer en mense wat siek is, so jy moet óf ’n onderwyser óf ’n verpleegster word.

In gr. 12 het ek vir my wiskundemeneer gesê ek wil ’n onderwyser word.

Hy het gesê die enigste manier hoe jy gaan leer, is om praktiese werk te doen en het my toe aangeraai om van my eerste jaar af ander te begin tutor.

Ek het onderwys aan die Universiteit van Wes-Kaapland studeer. Op universiteit het ek first-year math ge-tutor. Ek het kinders op skool ge-tutor, sommer hier by die huis in Eersterivier.

Ek het hier grootgeword en woon nog altyd hier. Sedert die begin van verlede jaar hou ek skool by West End Primêr in Mitchells Plain.

Ek is absoluut mal oor die skool. Hierdie is nou my vierde skool sedert ek sewe jaar gelede begin skoolgee het.

Ek was al by Hoërskool Bonteheuwel in die hartjie van die Kaapse Vlakte, by Blackheath Primêr en ook by Silversands Primêr.

Ek het ook al Media24 se wiskundesentrum vir ’n tyd lank bestuur.

Ek het ook hierdie jaar my honneursgraad in wiskunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland gekry.

Ek beplan nou om my meesters ook in wiskunde te doen.

Lizette het vanjaar haar honneursgraad in wiskunde
Lizette het vanjaar haar honneursgraad in wiskunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland behaal. Foto: Verskaf

Ek sê altyd vir mense ek is nie getroud nie en ek het nie kinders nie, so ek het baie tyd, en as jy iets wil doen, dan maak jy tyd daarvoor.

Vir my is dit die beste gedeelte van my journey.

Ek voel elke skool het vir my gevorm in die persoon wat ek nou is.

Ek het soveel ervaring opgedoen met dié dat ek beweeg van skool tot skool.

Ek voel God is deel van my journey en dat Hy my al die ervarings gee omdat ek kan sien hoe elke skool bydra tot waar ek eendag wil wees.

Die kinders van vandag is nie op die vlak wat hulle moet wees nie. Jy benodig 30% om te slaag, maar benodig baie meer as dit om wiskunde te kan doen die volgende jaar.

So as gevolg van dit is kinders nie altyd voorbereid vir die volgende graad nie.

Dit is regtig nie dat wiskunde moeilik is nie; dit is net jy sukkel met konsepte wat jy nooit onder die knie gekry het die vorige grade nie, en weens daardie gap is dit vir jou verskriklik moeilik.

Lizette vervaardig en deel video’s waarin sy versk
Lizette vervaardig en deel video’s waarin sy verskeie wiskundige ­konsepte aan die gepaste graadvlakke verduidelik. Foto: Verskaf

Kinders vra altyd waar gaan ek die wiskunde gebruik en wat is die punt om dit te leer?

Maar dit gaan nie daaroor nie.

Dit ontwikkel jou logika en analiseringsvermoë.

In wiskunde leer jy om stappe te volg, net soos in die lewe as jy moet dink wat jy volgende gaan doen.

Dit is meer as net somme doen en plus en minus. Ek sien wiskunde oral. Ek probeer om alles wat ek rondom my sien in my klaskamer in te bring.

Soos in Augustus verlede jaar het ek ’n trolley dash gedoen waar die kinders in die winkel rondhardloop en meetkunde doen.

Baie skole sou dit gou afskiet en dink dis ’n silly idee, maar my span is baie ondersteunend.

Ek gee vandag wiskunde vir gr. 5 en 6. My gr. 5-wiskundeklas het verlede jaar ’n 100%-slaagsyfer gehad.

Dit sê vir my dat my kinders definitief aanklank vind by my metodes, die werk verstaan wat ek aanbied en die manier hoe ek dit aanbied.

Ek is so sad oor die lockdown, want ek het hierdie jaar die oulikste klas.

Ek verlang beslis en is nog elke dag in kontak met hulle en hulle ouers.

Ek stuur vir hulle werk en vra vir die ouers om foto’s te stuur van wat hulle doen.

‘Dit is meer as net somme doen en plus en minus’ 

Tussendeur tutor ek nog al die pad.

Dit is nou al 10 jaar lank. Maar ek moes onlangs ophou om na mense toe te gaan om hulle met hul wiskunde te help.

Daar het te veel mense my begin kontak, en ek kon nie by almal uitkom nie.

Dit het my sad gemaak, want ek kon nie vir almal ja sê nie.

Verlede jaar het ek tot laatnag ge-tutor en oral na mense se huise gery. Ek kom dan negeuur die aand by die huis, en dis nogal uitputtend.

Dis hoekom ek die YouTube-kanaal Wiskunde Juffie begin het, want ek wil soveel mense as moontlik bereik.

Ek kry dit nou reg sonder om laatnag te ry, ongesonde snacks te eet op die pad en bekommerd te wees oor my veiligheid.

Ek het as tutor ook ervaar mense kan nie regtig bekostig om ’n tutor te betaal nie.

Ek het toe besluit om dit gratis te maak, want mense moet alreeds data koop. Ek het die kanaal in lockdown begin.

Toe die lockdown begin het, was ek soos: Dis my oomblik.

Ek wou dit nog altyd doen, en as dit nie God is wat nou vir my tyd gee om dit te doen nie, dan is ek stupid om dit nie te sien nie.

Daar is nou ’n groot nood vir dit. Almal is nou aanlyn en soek lesse om hulle kinders te help.

My doel is beslis om wiskunde altyd fun te maak.

Om weer vir kinders wiskunde op ’n ander manier te verduidelik sodat hulle kan sien dat wiskunde glad nie so moeilik is nie.

Al verlang ek na my kinders, is ek bang om terug te gaan skool toe.

My skool is in ’n area wat bekend is as ’n coronavirus-hotspot.

Ek praat daagliks met ouers en hulle vertel hoedat dit ’n party is in hul woonbuurt en niemand social distancing toepas nie.

Die idee dat ek kinders moet onderrig waar sommige ouers so onkundig is oor die erns van die saak, maak my bang.

Omdat dinge anders gaan wees ná lockdown, sien ek nie uit daarna om terug te keer nie.

My normaal is om vir my klas drukkies te gee, want kinders benodig liefde.

Hoe op aarde gaan ek dit doen as ek moet wegbly van hulle af?

Onderwys is ’n aksie van liefde.

My grootste bekommernis is dat ek nie liefde kan oordra met die hindernis van ’n masker tussen my en die kind nie.

Maar vir nou is dit lekker om ander mense te inspireer en vir ander onnies idees te gee met my video’s.

Dis baie humbling, veral as mense vir jou mooi boodskappe stuur. Dit hou jou aan die gang.