Ek kuier te lekker by my seun en skoondogter aan KwaZulu-Natal se suidkus. Ons bewonder hul nuwe huis en die pragtige, lowergroen tuin.

Hul nuwe hondjie verskaf ons ure se plesier. Dan ry ons na ’n hondeteelplek om iets vir die hondjie te koop. Toe ons uitkom, staan ’n ou man wat besems verkoop naby my motor, sy gesig verweer deur die son.

Hy skuifel nader en bied my ’n besem aan. Ek kyk vinnig na hom en sê: “No, thank you.” Hy bly naby my staan, en toe my oë syne ontmoet, sê hy: “I am hungry.” Ons ry vinnig weg. Die naweek is besig.

Ons gaan see toe en eet uit. Dis te vinnig verby.

Op pad terug Johannesburg toe spook die man met die besems se oë weer by my. En sy woorde: “I am hungry.”

Is dit hoe hard my hart geword het, dink ek stilletjies, om elke dag soveel bedelaars by die verkeersligte te sien staan en net verby hulle te kyk?

Speel met my selfoon, kyk anderpad, krap in my handsak – enigiets om net nie met hul smekende oë en armoede gekonfronteer te word nie. Ek bel my seun aan die suidkus en vra of hy nie dalk weer na die teelplek toe gaan nie.

Hoekom? wil hy weet. My gewete pla my, antwoord ek. Nee, hy gaan nie in daardie rigting nie. Wat kon ek doen? Ek bid toe maar vir die besemman sonder naam met die smekende oë en verweerde gesig.

Vergewe my.

Ek kry ’n plan en gaan koop kos. Ek maak twee sakke vol en deel dit by twee verkeersligte uit. Dit maak my hart bly toe ek sien hoe die mense opgewonde kyk wat in die sakke is.

Kom ons erken ons behoeftige medemense se bestaan en menswaardigheid deur nie te maak asof hulle onsigbaar is nie. En gee wat jy ook al kan.

Kontak ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.