Maar alles het in ’n ommesientjie verander toe haar pa, met wie sy ’n baie noue verbintenis gehad, onverwags sterf.

Dis toe haar stryd teen drank, rook en depressie begin het. Sy was male sonder tal radeloos genoeg om haar eie lewe te probeer neem.

Danksy die hulp van haar geliefdes en haar vasbeslotenheid om beter te raak, het dié ouma die donker dae oorkom. 

Nou wil sy Huisgenoot-lesers vertel wat sy alles beleef het: 

My kinderjare aan die noordkus van Natal, weg van die stadsgewoel, was gelukkig. Ek was die jongste van twee kinders en het ’n natuurlike aanleg vir die meeste dinge gehad. Ek het goed gevaar in alles waaraan ek deelgeneem het, sport, huisvlyt, skool en die sosiale lewe.

Ek was so voorbeeldig as kan kom. My pa het my deur my hele kindertyd op ’n voetstuk geplaas – ek was sy goue kind! Dit het onbewustelik groot druk op my geplaas om tot in my volwasse lewe ’n baie hoë standaard te handhaaf. Ek het ’n perfeksionis geword.

Maar op 16 het ek deel van die statistiek geword: ’n Tienerma!

Ek is nagenoeg twee en ’n half jaar later met die pa van my seun getroud en het ’n jaar later ’n dogtertjie gehad wat die gesin voltooi het. Dit het gelyk asof ons ’n doodnormale, liefdevolle gesin van die 1980’s in ’n klein suikerbedryfgemeenskap was.

Ek was die volmaakte tuisbly-ma en -vrou wat na die kinders gekyk en die huis agtermekaargehou het, terwyl ek steeds genoeg tyd gehad het om tyd saam met die ander vroue en ma’s in die buiteklub deur te bring.

Ons het tennis en muurbal gespeel of net luilekker om die swembad rondgelê. Wat kon ’n vrou dan nou meer begeer? 

Toe, in Mei 1983, is my pa skielik aan ’n hartaanval oorlede. Ek was 22. My hele lewe het inmekaargestort. Hy was alles vir my. Daarna was my lewe nooit weer dieselfde nie. 

Dit was nog ’n groot slag, want ek het hom met my hele siel en liggaam liefgehad

Daar was ’n yslike leemte in my lewe wat niks kon vul nie, en ek was woedend vir die Here. Hoekom moes my pa sterf terwyl daar soveel slegte mense in die wêreld was?

My pa het my baie dinge geleer, maar nie hoe om dié leemte te vul nie. Ek moes dit self probeer doen.

Dit was die begin van ’n steil afdraande.

My huwelik het begin wankel. In 1986 het ek my kinders gevat en my man verlaat.

Einde 1987 het ek my tweede man ontmoet en ons is in 1989 getroud.

Hy was ook voorheen getroud en het ’n seun gehad wat ’n jaar jonger was as my dogter. Ons het besluit om nie nog kinders te hê nie aangesien dit die situasie sou bemoeilik.

In 1991 het ons Durban toe getrek en ons eerste huis in 1994 in Pinetown gebou. Die lewe was goed, tot my man besluit het die verste gras is die groenste en 'n verhouding aangeknoop het.

Dit was nog ’n groot slag, want ek het hom met my hele siel en liggaam liefgehad. Ek was nog nooit weer so lief vir ’n man nie.

Ek het teen daardie tyd ’n baie goeie betrekking in IT gehad; dus was ek finansieel veilig. Ek kon hom uit die huis skop en ’n egskeiding aanvra.

My houding was: Niks kan my onderkry nie. Maar dit het!

Ek het ’n woedende, mal, hartseer, verworpe, ontroosbare verskoning vir ’n nuttelose mens geword. Ek het in die psigiatriese saal beland, want ek wou my lewe neem.

Nadat ek die psigiater gespreek en ’n rukkie lank medikasie geneem het, kon ek stadigaan genoeg herstel om aan te gaan met my lewe.

Ek en my eksman het Kaap toe getrek en probeer om te versoen, maar ek het ná ’n paar maande in die Kaap uitgevind hy het weer met dieselfde vrou ’n affair aan. 

Dit het my ondergekry. Ek het na die bottel gegryp en heeltyd partytjie gehou. 

Op ’n aand het ek in my dronkenskap en hoog op dagga besluit om na sy huis te gaan en hom dood te maak. Ek het hom aanhoudend geslaan en ’n mes gegryp om hom daarmee te steek. Ek was heeltemal buite myself.

Ná daardie chaotiese gebeurtenis is ek terug na die sielkundige en die medikasie.

Die onderwerp was vir my taboe; ek het gedog dis alles ’n klugspel

Net toe dit eindelik begin regkom, het my eks my genader en ons het weer vriende geraak. Ek het egter so erg seergekry dat ek nooit weer ’n verhouding met hom sou kon aanknoop nie – die vertroue was heeltemal weg.

Ek het hom ’n klompie jare later ’n huis help koop. Ek het my woonstel verhuur en by hom in die huis ingetrek, maar die ooreenkoms was “geen verhouding nie, platonies.”

Hy was baie bly om my net in die omtrek te hê en ons het goeie maats geword.

Omdat ek so ’n raakvatter is, het ek die nodige opknappingswerk en veranderings aan die huis behartig. Ons het selfs ’n oumawoonstel laat aanbou, waar my ma en haar man ingetrek het.

My eksman het probeer om die verhouding verder te voer, maar ek wou nooit weer saam met hom in so ’n situasie beland nie.

Maar, en ’n yslike groot maar … ek het hom steeds liefgehad! Dit was so ingewikkeld.

Ek het saam met ’n omgee-man in ’n pragtige huis gewoon, in ’n wonderlike voorstad, met my kinders en kleinkinders net om die hoek, maar daar was nog steeds hierdie gevoel van leegheid. Ek was nie tevrede met my lewe nie.

Omdat ek gevoel het ek het niks om te verloor nie, het ek die kontakbesonderhede van ’n vriendin se sielkundige gekry. Sy het hom ’n paar jaar lank besoek en dit het gelyk asof dit werklik ’n verandering in haar lewe maak. Ek sou vantevore nooit oor so iets gepraat het nie. Die onderwerp was vir my taboe; ek het gedog dis alles ’n klugspel.

Dit was so angswekkend om my diepste gevoelens en gedagtes aan ’n wildvreemdeling te openbaar. Toe ek klaar was, het hy voorgestel dat ek ’n psigiater spreek om medikasie te kry wat my sou help om myself “weer te vind”.

Ek en my vriendinne het maande later ’n byeenkoms gereël vir Vrouedag en ek het gereken dit sou die perfekte tyd wees om tot siens te sê – vir altyd. Ek het genoeg medikasie gehad vir ’n hele maand en ek was gereed om dit te gebruik.

Ek het gelukkig die middagete te veel geniet en met ’n drankie te veel agter die blad, rek ek toe my groot mond teenoor een van die meisies en sê heeltemal te vroeg tot siens!

Sy het dadelik geweet dat ek selfdood beplan en het van die ander vroue ingelig, en toe is daar onmiddellik ’n ingryping. Ek is in ’n motor geboender en huis toe geneem om ’n tas te pak en het toe by ’n vriendin gebly, waar ek heeltyd onder streng waarneming was.

Sy het my die dag daarna weer na die sielkundige geneem. My psigiater is ook ingelig en hulle het vir my ’n bed by die plaaslike psigiatriese hospitaal bespreek.

Ek het sowat twee weke daar gebly terwyl sy die medikasie verander het en die kombinasie wat vir my sou werk, nagevors het. Toe ek daar uitkom, het ek positief gevoel en was gereed om die depressie te oorwin.

Die medikasie het my ongelukkig ’n vals gevoel van selfvertroue gegee. Ek sou ’n paar dae lank in die wolke wees en dan daal ek weer so laag dat ek weer my lewe wou neem. Ek het gedink dit duur net ’n tydjie voor die medikasie in my gestel opgeneem word en my balanseer; dus het ek vir niemand vertel nie.

Ek het ná sowat drie maande vir my psigiater gesê sy moet my dosis verlaag, want ek kon nie langer met die hoogte- en laagtepunte saamleef nie.

Sy het my weer na die psigiatriese hospitaal toe gestuur en ons het die hele proses herhaal: Speel met die medikasie, voeg dit by en verwyder dat.

Ek het deur dit alles nooit opgehou om my sielkundige te besoek nie en het ’n goeie band met hom gehad. Ek het hom so ver vertrou dat ek my diepste geheime en gevoelens met gemak met hom kon deel. Hy het my die woede oor my pa se dood help oorkom. Hy was ’n gawe van Bo!

Ek het ’n bietjie beter gevoel en my seun sou kort daarna Nieu-Seeland toe trek; daarom het ek myself vroeg ontslaan sodat ek tyd saam met hom kon deurbring voor hy vertrek. Nie ’n baie goeie besluit nie. 

Ek het so ’n laagtepunt bereik dat ek niks anders wou doen as om na musiek te luister, koffie te drink en te rook nie, en het selfs soms op die koop toe ’n bietjie drank bygevoeg.

Ek was emosioneel en liggaamlik in ’n gemors. Ek het nie gestort of my hare gewas nie. Ek het nooit aangetrek of die bed opgemaak nie.

My eks en my vriende het my deur dit alles baie bygestaan en het so hard probeer om te verstaan en ’n oplossing te vind. My eks is een oggend slaghuis toe.

Skielik het dit by my opgekom: “Neem al die pille wat jy in die hande kan kry.”

Ek het, en dit met wyn afgesluk.

Ek kan vaagweg onthou dat ek op ’n motor se agtersitplek was en toe raak ek in die intensiewesorgeenheid wakker met buise en pype oral.

Ek stel myself in elkeen van dié wat sou agterbly se skoene

My eksman het blykbaar tuisgekom en my in ’n koma op ’n bank buite op die stoep gekry. Hy het toe my dogter gebel en hulle twee het my in sy motor gelaai en met my hospitaal toe gejaag, waar ek dadelik in die hoësorgeenheid opgeneem is.

Daar is aan hulle gesê hulle sou eenvoudig moes wag tot ek bykom en dit sou hopelik nie lank duur nie. Hulle het nie geweet watter soort pille ek ingeneem het nie, so al wat hulle kon doen was om te wag.

Ek was drie dae in die hoësorgeenheid en toe is ek na die psigiatriese hospital oorgeplaas. Ek was steeds baie bleek en deurmekaar. My vriende en familie het almal beterskapwense gestuur en sommiges het my kom besoek. Niemand was vir my kwaad nie. Dit was vir my baie vreemd.

Ek het ’n heeltemal ander lewensbeskouing gehad toe my verstand eindelik weer helder was. Ek kon sien hoe my eks en my dogter probeer om dit te verwerk en ek kon my voorstel wat in hul gedagtes omgegaan het.

Ek het my verbeel ek sien hoe my gewese man vir my ma sê ek het gesterf.

Hy sien my steeds in koma, maar, kan jy glo, ek is besig om hom te help om dit te oorkom?

Ek weet nie hoe my kleinkinders sou reageer nie, maar ek stel myself in elkeen van dié wat sou agterbly se skoene en ai … dit was werklik moeilik en het my oë behoorlik oopgemaak!

Gelukkig het ek ’n enorme ondersteuningstelsel van familie en vriende wat my bystaan. My medikasie is verminder en dit werk baie goed.

Ek vermy alle drank en dis ’n yslike pluspunt, want dit kan met my medikasie inmeng. Oefening en meditasie het my innerlike vrede help kry.

Deur dit alles het ek vrede gemaak met my pa se dood en my eks vergewe vir sy wandade.

Ons is tans in ’n regte verhouding, is van vooraf verlief en het pas verloof geraak. Ek kan steeds nie glo dat hy 18 jaar vir my gewag het nie. Dis moeilik om te verwoord hoe ek nou voel. Ek het soveel liefde om te gee en die uitspansel glimlag vir my.

Ek het ’n nuwe ek gevind. Dis wonderlik!

My raad aan enigiemand wat ooit teen so iets moet stry: Vertel iemand wanneer jy terneergedruk voel. Stap ’n entjie. Luister na musiek en huil of dans eenvoudig om deur die dag te kom, want dit raak beter as jy daarop konsentreer. Jy kan dit oorwin!

Probeer asseblief met jou hele wese om die tyd en moeite in te span om jou in ’n beter luim te kry.

Jy verdien dit! 

Kyk saans in die spieël en sê saggies vir jouself: ‘Ek is lief vir jou en jy het vandag jou bes gedoen. Selfs al het jy nie alles uitgerig wat jy beplan het nie, is ek steeds lief vir jou.’

  • Name is verander

Hierdie verhaal is aan Huisgenoot voorgelê en dit is effens geredigeer. Het jy ’n verhaal om te vertel? Stuur ’n epos aan web@huisgenoot.co.za.

Sadag het ’n 24-uur hulplyn: 0800 12 13 14