In die eerste episode praat Huisgenoot-joernalis Carla Coetzee, die aanbieder van ons podcast-reeks, met haar eie ouma en oupa Venter wat al vir meer as ’n halfeeu getroud is. 

L is vir Liefde is verhale van konvensionele en onkonvensionele liefde, want in die woorde van die digter I.D. du Plessis: Die liefde neem ’n duisend vorme aan. Die eerste Vrydag van elke maand stel ons nog ’n episode van die reeks bekend, so maak seker jy volg ons op die app wat jy vir podcasts gebruik. 

Wat is ’n podcast? 

’n Podcast is ’n klankopname waarna jy kan luister asof dit ’n radioprogram is. Sommige podcasts vertel ’n storie, ander is in die vorm van onderhoude. ’n Podcast is byna soos radio maar jy kan kieskeurig wees oor waarna jy na luister en wanneer jy dit wil luister. 

Dié opname kan gestroom word of jy kan die episodes aflaai wanneer jy toegang tot die internet het en later daarna luister. Die woord kom van Apple se iPod af, wat met “broadcast” saamgesmelt is. Dit was oorspronklik iets wat net op Apple se iTunes beskikbaar was, maar nou geld amper enige digitale klankopname met gereelde aflewerings as ’n podcast.

Dit is die vinnigste groeiende digitale medium in die land en miljoene mense wêreldwyd luister na podcasts. Jy sal ’n podcast oor byna enige onderwerp onder die son vind. Tik net ’n soekwoord of ’n naam van ’n podcast in die soekfunksie van ’n platform soos Spotify, iTunes of Podbean in en jy kan kies en keur waarna jy wil luister. 

Daar is nog nie baie Afrikaanse inhoud nie, so begin met “L is vir Liefde” of “WEG stories”.

Hoe luister ek?

Jy gaan ’n app moet aflaai op jou foon – toemaar die app is gratis. 

Jy benodig net ’n internetverbinding. Ons stel voor jy doen dit wanneer jy Wi-Fi het sodat dit jou nie data uit die sak jaag nie. Laai iTunes of Spotify of Podbean op jou foon af. Baie fone kom reeds met een van dié apps vooraf gelaai.

Registreer met jou e-posadres. Nadat jy geregistreer het, kan jy in die soekfunksie “L is vir Liefde” intik en SEARCH druk.

Die podcast sal dan op jou skerm verskyn. Kliek op hom en dan op FOLLOW. 

Indien jy nog op Wi-Fi is, luister episode 1.

Anders kan jy die episode aflaai om later te luister (wanneer jy dalk nie internet het nie) deur op die drie kolletjies te kliek en DOWNLOAD te druk.

As jy ’n storie oor die liefde het waarvan jy ons wil vertel, stuur e-pos na carla.coetzee@huisgenoot.com

Onthou om L is vir Liefde te volg, en deel jou gunstelingepisode op sosiale media. 

Lekker luister!