Hy was ’n kwadrupleeg toe Ilse en Pieter ontmoet het. Maar nie eens dít kon die liefde tussen dié twee keer nie. Twaalf jaar later droom dié sportman en sy mooi vrou nog saam groot.

Luister hiér na hulle episode.


L is vir Liefde is ’n podcast waar ons konvensionele en onkonvensionele ware liefdesverhale vertel. Gaan luister ook gerus na ons vorige episodes. Elkeen vertel ’n aangrypende liefdesverhaal wat jou soms na jou asem sal laat snak of ’n snesie sal laat nadertrek.

L is vir Liefde is beskikbaar op alle platforms waar jy na podcasts kan luister.

Lees verder om te leer wat 'n podcast is en hoe jy saam kan luister.

Wat is ’n podcast?

Dit is ’n klankopname waarna jy kan luister asof dit ’n radioprogram is. Sommige podcasts vertel ’n storie, ander is in die vorm van onderhoude. ’n Podcast is byna soos radio, maar jy kan kieskeurig wees oor waarna jy wil luister en wanneer jy dit wil luister. Die episodes kan gestroom word of jy kan die episodes aflaai wanneer jy toegang tot internet het en later daarna luister.

Dit is die vinnigste groeiende digitale medium in die land, en miljoene mense wêreldwyd luister na podcasts. Jy sal ’n podcast oor byna enige onderwerp onder die son vind. Tik net ’n soekwoord of ’n naam van ’n podcast in die soekfunksie van ’n platform soos Spotify, iTunes of Podbean in en jy kan kies en keur waarna jy wil luister. Daar is nog nie baie Afrikaanse inhoud nie, so begin met “L is vir Liefde”, “Huisgenoot agter die storie” of “WEG stories”.

Hoe luister ek?

Jy gaan ’n app moet aflaai op jou foon – toemaar die app is gratis. Jy benodig net ’n goeie internetverbinding; ons stel voor jy doen dit wanneer jy Wi-Fi het sodat dit jou nie data uit die sak jaag nie. Download iTunes, Spotify of Podbean op jou foon.

Baie fone kom reeds met een van dié apps uit.Registreer met jou e-posadres. Nou kan jy in die soekfunksie ’n podcast of woord intik om na te luister. Die podcast sal dan verskyn op jou skerm. Kliek op hom en dan op "follow". As jy nog op Wi-Fi is, luister episode een. 

Anders kan jy die episode aflaai om later na te luister deur op die drie kolletjies te kliek en DOWNLOAD te druk.

Lekker luister!