Wat het julle besiel? Geld, sekuriteit, status? Julle het so goed geweet watter knoppies om te druk.

Nie een van julle het so iets soos ’n gewete nie. En dit sluit my man in.

Hy was onbewus daarvan dat ek reeds taamlik baie weet, maar ek het nie laat deurskemer presies hoeveel nie. Hy lieg so dat hy homself glo. Maar julle, julle sien blykbaar net die nice raak.

Hy kom elke keer huis toe; wat sê dit vir julle? Ek sou dink die vernedering nadat hy julle misbruik het (hy commit dan nie), sou veroorsaak het dat julle hom wil terugkry en sy vrou bel (want julle albei ken my mos).

Maar nee, julle gaan steeds voort: oproepe, WhatsApps. Ek sien en hoor hoe ander mense oor julle praat, maar ek bly stil, want op ’n dag gaan daardie bom bars.

Daarvoor wag ek en berei ek myself voor. Ek, die eggenote, het niks om oor skaam te wees nie. Ek probeer nog om myself en my kind te beskerm. Ek raak stil en besef die wiel draai.

Op God se tyd, nie myne nie. Jare lank is ek verbaal en fisiek mishandel. My trots het my laat uithou en aanhou. Ek was dom!

Soos ’n vriend van my man sê: As jy lank in sy teenwoordigheid is, kyk jy deur hom. My man, as daar een is wat werklik dom is, is dit jy. Jy verloor baie, en moenie dink die gras is groener nie; dit hou gewoonlik nie.

Jy sal dit oor en oor doen. Jy verdien my nie. Ná soveel jare sien ek die regte persoon. Jy leef ’n leuen. En ek wag net my tyd af.

-TELEURGESTELD

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.