Dis koud hier waar ek staan, maar ek kan myself nie sover kry om in die huis in te gaan nie. Want binne is dit hel.

Ek wil so lank moontlik daarvan wegbly. Van die seer, die raas, die skree, die aggressie . . . van die reuk.

Ek weet hy lê binne met sy logge liggaam in die ingang van die slaapkamer. Op die sitkamermat lê die leë wodkabottel. Die rede vir dit alles.

My horlosie wys dit is nog nie eens seweuur nie. Ek dink aan die rusie. Aan die geskree wat die bure moes hoor.

Aan die bloed teen die muur toe hy sy vuis daarteen stukkend geslaan het.

Die vrees.

Die feit dat dit nie die eerste of laaste keer is nie. Wat is fout met jou? Dis nie asof jy nie hieraan gewoond is nie.

Jy het belowe “tot die dood ons skei”, sê ek vir myself. Maar wat as jy daardie dag toe jy voor jou vriende en familie die belofte gemaak het, geweet het waarvoor jy jou inlaat?

Wat as jy geweet het dit sal nie vanself regkom nie? Wat as jy geweet het geen hoeveelheid liefde en ondersteuning sal dit beter kan maak nie?

Wat as jy geweet het ondersteuningsgroepe, dokters, pille en boeke sal nie help as hy nie gehelp wíl word nie?

Wat as jy geweet het vriende en familie sal hulle blind hou en mettertyd julle die rug toekeer?

Ek vee my trane af en loop stadig terug huis toe. Ek het ’n sitkamer wat moet skoon kom. ’n Muur om te was. ’n Dronk man wat ek in die bed moet kry. As ek net geweet het.

– Anoniem, Kaapstad