Jy is so mooi en saggeaard. Niks kan jou mooier maak nie. Ek kan sien hoe jy sukkel.

Jy voel alleen al is ’n horde mense om jou. Jy voel leeg en bang. Jy hou nie van jouself nie. Jy sien geen vreugde in die lewe nie. Jy voel soos ’n nikswerd. Niks wat ek of enigiemand sê of doen, kan jou beter laat voel nie.

Geen medikasie in die wêreld kan iets hieraan doen nie. Net jy kan. Die feit dat ek jou nie kan help nie, laat ’n hol kol op my maag.

Ek is heeltyd naar. Ek kan nie slaap nie. Ek weet nie hoe om dit vir jou beter te maak nie. Ek weet nie of dit net alles sal erger maak as ek iets probeer doen nie. Ek luister wanneer jy sê ek moet back off.

Maar ek kan dit nie regkry nie. Ek weet nie wat om te doen nie. Moet ek soos normaal voortgaan? Moet ek nuwe medisyne vir jou kry? Moet ek jou weer laat opneem? Ek dink nie ek het genoeg krag vir hierdie ronde nie.

Maar hoe gooi ek as ma tou op? Hoe sit ek agteroor en kyk hoe die letsels aan jou arm meer en meer word? Hoe kan ek jou net laat begaan om nie te studeer nie?

Die matriekeindeksamen is op hande. Hoe kyk ek toe dat jy 12 jaar se skoolgaan sommerso weggooi? Hoe op dees aarde los ek jou ’n sekonde alleen terwyl ek weet jy wag net op die regte oomblik om ’n einde aan jou lewe te maak? Hoe? Ek kan mos nie net back off nie?

Een ding weet ek wel: Ek kan nie moed verloor nie. Daarvoor is jy heeltemal te kosbaar vir my.

– Anoniem

E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.

Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.