Op die tafel staan ’n pienk koekstaander met 10 spierwit teekoppies. Elkeen met ’n vetplantjie gevul. Afgerond met engelhaar vir ’n bietjie bling. Wit porseleinborde met fyn pienk blommetjies omsoom. Dankiesêboksies gevul met lekkernye.

Binne hang die geur van koffie en kos soos liefde in die lug en verwelkom die gaste. Vroue klets te lekker saam.

Die netjies geklede vroue vergewis my van die ouderdom. Ons spot oor dubbel kenne, maar daar is weinig plooie. In die hoekie sit twee ouer vroue. Twee ma’s wat geseënd is om nog deel te wees. Óf dalk eerder twee dogters wat bevoorreg is met hul teenwoordigheid. Die twee ma’s gryp my hart vas. Negentigerjare is nie onmoontlik nie.

’n Vrolike tafel roep die gaste nader. ’n Fees van vrugteslaai, jogurt, brood en ’n ontbythoofgereg. Ek luister na die onthou-­jy-nog’s en die stories wat gedeel word. Ek proes van die lag toe iemand vertel jy is op 60 banger vir jou tandarts as ginekoloog.

Selfone sirkuleer om te spog en die mooi te deel. ’n Generasie wat sonder tegnologie gebore is, pas aan.

Leë borde getuig van die feesmaal. Nes ’n uurglas loop ons huis leeg. Met na­betragting maak ons somme. ’n Restaurant dalk makliker en goedkoper? Maar nee, sê ons. Sonder die atmosfeer van ’n rustige stoep is dit ’n kunsmatige party.

Mutton in lamb clothes,” sal onthou word. Rose verlep, maar vetplantjies druk deur en groei stil-stil met liefde en aandag. In jare vorentoe sal ons hierdie oggend onthou.

Lynette Strydom

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.