Ek was 15 met my pa se selfdood.

Eers toe het ons gesin besef hy was altyd depressief, maar ons was so “gewoond” daaraan dat ons hom nooit bemoedig het nie.

Hy het nooit gekla nie; net stilweg gely.

So vind ons uit my oupa het vroeër ook selfdoodpogings oorleef en dat depressie geneties is.

Ek en my broer het mekaar as tieners belowe ons sal hulp soek as die depressiemonster ons begin teister.

Sewe jaar gelede, ná die geboorte van my eerste baba, gaan ek dokter toe. Ek voel angstig, hulpeloos, sien geen lig nie.

Wat my die meeste kwel, is mense wat sê: 'Lees net meer Bybel en bid.'

Die diagnose: nageboortelike depressie.

Ek huil my oë uit: Die monster volg my, is in my bloed . . . 

Wat my die meeste kwel, is mense wat sê: “Lees net meer Bybel en bid.”

Dit laat my voel ek faal as gelowige.

Dankie tog vir my apteker, wat saam met die antidepressante ’n drukkie en helende woorde gee: “Moenie dit ’n geloofskwessie maak nie. Dit is ’n siekte soos enige ander.”

Ek besluit om nie in sak en as te gaan sit nie.

Ek wil ’n goeie ma vir my dogtertjie wees, ’n goeie vrou vir my man, my werk so goed moontlik doen.

Om dit te vermag, moet ek my medikasie neem en beter word.

Ek besef dat ek ook al lank aan depressie ly.

Die koms van my baba het dit net laat verdiep.

Die medikasie neem nie die spanning en probleme weg nie, maar ek is sterker om dit te hanteer.

My gemoed is so dat ek weer uitdagings kan aanvat.

Ek sal moontlik vir die res van my lewe medikasie gebruik, maar eerder dit as die donker gat, die monster wat in my nek blaas.

Mense oordeel, maar voor jy daar was, sal jy nie weet nie.

My boodskap aan depressielyers: Soek hulp; gebruik medikasie indien nodig.

Jy kán die monster oorwin.

- Anonieme depressielyer