Nie ver van ons nie is ’n huis in vlamme gehul. Die kinders wil met alle mag gaan kyk, want daar is nou ook die geloei van sirenes wat ál nader kom.

Trane loop oor die geskokte jong man se wange.
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Hulle kyk grootoog; hoe kan ’n hele huis net so afbrand? Terwyl ek daar staan en kyk, dink ek aan die gesprek wat ek net daardie oggend nog met iemand oor aardse dinge gehad het, en ek besef hoe gestroop die bewoners van hierdie afgebrande huis nou eensklaps is.

Hulle is daar uit met niks, en trane loop oor die geskokte jong man se wange. Hy het nie eens skoene aan sy voete nie. Skok hang so swaar soos die rook in die lug.

Ons gesels baiekeer oor wat ons in noodsituasies sal doen; om kwansuis voorbereid te wees en ’n plan te hê. Maar ek weet ook dat wanneer iets rampspoedigs gebeur ’n mens dikwels onkant betrap sal word.

Ek probeer my gedagtes orden oor die een ding wat ek sou gryp en na buite vat as ek in hul skoene sou wees, maar toe ek weer sien, is dit ’n hele lang lys in my kop. Hoe lank maak ’n mens aardse goed bymekaar, net om in ’n oogwink alles te verloor behalwe die klere aan jou lyf?

Die gesin is geskok. Hul verbystering om skielik sonder ’n dak oor hul kop te wees is voelbaar. Dis wat gestroop beteken. Maar gaandeweg is daar ook die dankbare besef by hulle dat almal nog leef, en dat dít van groter waarde is as al die besittings waarvan daar nou net as oor is.

– Lynette Strydom

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief.@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.