As kind was my vreugde oor Paasfees danksy dinge soos eiers, hasies en sjokoladelekkernye. Wat was daar nie om te vier nie? As volwassene sien ek steeds uit daarna, selfs sonder al die lekkernye. 

Die afgelope jaar was vir baie van ons ’n tyd van swaarkry en van verskriklike situasies. Baie het selfs gedink dis die einde, net soos toe Jesus in daardie graf gegaan het. Maar pleks daarvan om die horison te verloor, was dit die begin van ’n nuwe horison.

Dis wat Paasfees vir my beteken: nuwe horisonne, nuwe vreugde, nuwe hoop en dat by God alles moontlik is. So my boodskap aan Huisgenoot-lesers – dié wat Paasfees vier, dié wat anders glo, of selfs glad nie glo nie – is weet dat daar hoop is.

Ek glo ons vier die lewe in sy volste oor Paasfees. Dis daar om ons te herinner dat daar te midde van die chaos en gemors van die lewe, steeds hoogtepunte, lag en – die belangrikste van alles – hoop is.  

JOHANNA

Skryf aan ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.