Ek groet my seuntjies elk met ’n sagte soentjie op die voorkop, bang ek maak hulle wakker. Met my koffie in my kar ry ek werk toe. Maar vandag is dit anders. Gister het ons gehoor die gevreesde COVID-19 is nou ook in Suid-Afrika.

Die veiligheidsmaatreëls word opgeskerp. Enige moontlike gevalle moet dadelik aangemeld word. In my agterkop dink ek nie net aan die pasiënte wat ek behandel nie.

Ek dink aan my twee seuntjies na wie toe ek vanaand teruggaan. Is die veiligheidsmaatreëls genoeg om hulle te beskerm of gaan ek die oorsaak wees dat een van hulle siek raak?

Ek kan sien die ding takel reeds my 10-jarige af. Hy het binne dae stiller geword en hy los my nie een oomblik alleen nie.

Ná my lang skof gaan ek moeg huis toe met die dag se gebeure nog vars in my geheue. Kan ek maar my seuns ’n drukkie en ’n soentjie gee?

Ons almal het gaan studeer om ander mense te help. So wanneer ons versigter as gewoonlik is wanneer ons julle kom bystaan, verstaan asseblief ons doen dit om ook ons eie families te beskerm.

Ons is net so bekommerd oor wat aangaan as die res van Suid-Afrika. Die enigste verskil is dat daar nie vir ons gesê kan word om van die huis af te werk nie.

Suid-Afrika kan nie bekostig om nog minder noodpersoneel te hê nie.

Die bevolking is te groot en die hulpbronne te min.

Al wat ons vra, is dat daar in ag geneem word dat ons ook hierdeur geraak word.

Ons doen alles wat ons kan om ’n toekoms vir almal te probeer verseker.

– Medic