’n Huisie waar jy jou kan sien tuinmaak, in ’n sonkol op die stoep kuier of sommer net in die kombuis bedrywig wees.

Jy kry daardie gevoel van ek hoort hier, ek is tuis, dit is die plekkie wat net myne sal wees. Hier sal ek verf soos ek wil, droom oor aanbou as my skip die dag kom en meubels na hartelus rondskuif wanneer die gier my beetpak.

Maar nes jy voel die droom is binne jou bereik, bars jou borrel: “Jammer, ons kan nie jou aansoek om ’n huisverbandlening goedkeur nie; jou rekords wys jy was voorheen gesekwestreer.”

Wel, ja, dit is so. Maar dit was ’n ongelukkige sameloop van omstandighede buite my beheer. My man het gesterf en die lewenspolisse het nie uitbetaal nie (’n storie op sy eie). En toe gebeur daardie ander gevreesde ding boonop met my – ek word by die werk afgelê.

Dit was die donkerste van donker dae. Ek het alles verloor: my man; ons huis; my werk en natuurlik my vriende. 

Ek het vyf jaar lank met ’n skedonk gery wat ek met my karige kontant moes koop en ’n blyplek gehuur.

Eindelik het ek weer ’n goeie werk gekry en elke reël van my finansiële rehabilitasie gehoorsaam: geen rekenings; geen kredietkaart; geen skuld. Ek het weer begin droom oor ’n eie plekkie, want die tyd stap aan en ek moet dink aan my aftrede.

Toe klap die deur weer in my gesig toe. Wanneer gaan ek ophou boet vir iets wat buite my beheer was?

Kan ek hoop dat so ’n dag eendag sal aanbreek?

– My huisie

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.