Ek het vier dierbare, hardwerkende, pligsgetroue kinders. Nooit was dit nodig om enigeen vir skool wakker te maak nie. My oudste was op sy eerste skooldag reeds gestort en aangetrek toe ek ontwaak.

So was dit elke dag, ontbyt ook self behartig. Ons is hardwerkende ouers, maar het dit nooit breed gehad nie. Weens my gesondheid en omstandighede moes ek ’n tuisblyma wees. Dit was nie aldag maklik nie.

Nadat die kinders skool verlaat het, het hulle gaan studeer en steeds ingewoon. Ek wou nooit gehad het dat hulle “losies” betaal nie. Ek was tevrede, want hulle het allerhande werkies en vakansiewerk gedoen, hard geleer om beurse te verwerf en so vir hul eie studie, boeke, buitemuurse dinge en vermaak betaal.

Ek het geglo ek kan hulle minstens ’n goeie ete, slaapplek en geluk in hul ouerhuis gun. Baiekeer is aan my vertel hoe verkeerd ek is; dat ek geldelik beter af kan wees deur hulle losies te vra. Dit het my hart seergemaak. Was ek besig om met my benadering my kinders te benadeel?

Ek het die voorbeeld probeer stel en my kinders ook geleer om te help en te gee waar nood is – in die huis, by die skool, vir ’n goeie saak en vir ander. Ek was nog nooit spyt nie. 

Vandag gee hulle almal op die mooiste omgeemanier aan ons as ouers terug. Menige dag voel ek skaam. Hulle wil net gee. Ek is bly dat hulle nooit vir hul tuisverblyf betaal het nie, en weet ek het nie ’n fout gemaak nie. In my hart is ’n stille dankgebed.

–  DANKBARE MA, VRYSTAAT

Deel jou storie
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir  My Storie  moenie langer as 300 woorde wees nie.