Ek was 45 jaar lank die onsigbare predikantsvrou.

Die bediening was vir my vervullend.

Maar dit was ook ’n tyd toe ek ’n verlies aan eie identiteit en privaatheid beleef het, want jy is “die dominee se vrou”.

Ek het geen beheer oor my eie lewe en eie besluite gehad nie en daar was geen tyd vir eie belange en ontspanning nie, want die gemeente kom eerste.

Tog het ek geweet dis my man se ­roeping. 

My man was die beste prediker wat ek nog gehoor het.

Die groot gemeente wat hy gehad het, het hy self met harde werk tot stand gebring.

Met elke diens het ek in die tweede ry van voor gesit en aan sy lippe gehang.

Ek kon hoor hoe die mense agter my sê hulle wonder hoe die predikant se vrou lyk.

Min wetend dis ek wat daar voor hulle sit. 

Ná die Nuwejaarsdiens het die mense vorentoe gestroom om my man die beste toe te wens vir die nuwe jaar.

Ek het alleen gestaan en verlore gevoel.

Ek voel dit was my man se plig om my vorentoe te roep sodat ons saam die nuwe jaar kon ingaan met die gemeente se seën.

Maar nee, hy het al die aandag geniet en van my vergeet.

 My man, wat ek baie liefgehad het, was lank siek.

Skielik was die gemeente wat hom so aangehang het nêrens.

Almal was net te besig om hom te besoek.

Toe hy oorlede is, was ek, sy sielsgenoot, langs sy bed tot hy hemel toe is.

In my binneste wonder ek hoe ver predikante sou gekom het as dit nie was vir ’n liefdevolle, bedagsame vrou wat hul arms omhoog gehou het nie.

Ek wens so dominees, pastore en evangeliste sien die vrou aan hul sy raak.

Eer haar, prys haar en laat die gemeente weet wie is sy.

- Susan Beetge

Kontak ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!