Ek is nou aan die skadukant van 50 jaar en besig om in my binneste dood te gaan. ’n Bitter eensame, seer en martelende dood.

Ek het my hele lewe, my hele menswees, my vryheid, my vriende, my werk, my familie en my omgewing prysgegee sodat jy, my man, kon floreer. Sodat jy kon groei en aan jou loopbaan bou.

Baie jare lank was ek beeldskoon, maer en stralend. Daar was altyd ’n glimlag op my gesig en ’n lag in my wese. Ek het jou bedien met ’n skinkbord, oorlaai met liefde en romanse.

Ek het vir jou ’n kind gebaar.

Maar jy het alles in my gesig teruggegooi met jou ontrouheid en skelm pornografiekykery oor die jare.

Ons het baie baklei en baie gehuil. Ons het keer op keer weer probeer. Jy het telkens belowe nooit weer nie. Net om dit weer te doen.

Hoewel ek jou my alles gegee het, was ek nooit goed genoeg nie. Ek is nou klaar. Al wat ek nou wil hê, is my vryheid. Ek wil nie jou beloftes meer hoor nie.

Sien jy my glimlag is weg? My oë het verdof? My lag het doodgegaan? Die vernedering het my liggaamlik siek gemaak? Sien jy hoe lelik en verwese my lyf geword het?

Jy staan by my sterfbed, my man, as jou narsistiese self en sien net jou pyn. My hart smeek nie meer nie. My gedagtes wens nie meer nie.

Ek is moeg seergekry. Al wat ek wil doen, is om my laaste asem van “ons” uit te blaas. Jy het jou potensiaal danksy my bereik.

Jy het my nie meer nodig nie. Begrawe die gedagtes aan my. Vergeet van my. Gaan aan met jou lewe. Sonder my.

– Angelface

Skryf vir ons