Toe is dit net gille, die polisie, ’n skoot wat klap en: “Everybody get down.Met my gesig op die vloer besef ek wat aangaan. Ek is histeries; almal om my is histeries. Ek bid en roep na my man wat my net vir ’n oomblik by die betaalpunt gelaat het om broodrolletjies te gaan haal, maar ek sien hom nie.

Is hy oukei?

Voor my op die vloer probeer ’n pa sy twee kinders kalm hou terwyl hy hulle met sy eie lyf beskerm. Naby hom lê ’n ou tannie blykbaar flou van die skok.

Almal van ons het dit oorleef . . . Maar waar ek vanaand in my bed lê, speel dit oor en oor in my verbeelding af.

Ek hoor steeds die gille, sien steeds die vrees in daardie twee kinders se oë en die gesig van hul pa, desperaat om hulle veilig te hou.

Ek ruk en bewe en huil.

Vanaand is ek op 30 jaar oud bang om my oë toe te maak om te slaap of om alleen badkamer toe te gaan.

Enige geluid laat my yskoud word en paniekbevange regop sit.

Want julle, die rowers, het iets van my vrede beroof. En in die plek daarvan het julle vrees gelaat.

– Anoniem 

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die ­redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.