Ek slaan my hande saam. Genade, ek het dan so lank gesukkel om WhatsApp op ’n manier onder die knie te kry. En in my gevorderde jare (volgens die Skrif al ver verby my raklewe) is hierdie nuus vir my soos ’n berg.

My gedagtes gaan terug na die dae toe ons briewe met die hand op papier geskryf het, en ook briewe ontvang het. Die beste skryfblok om te gebruik was Croxley s’n. Hulle was in blou, groen, pienk en ander kleure beskikbaar.  

Wanneer daardie koevert met die bekende handskrif eers in jou hande kom lê, kry jy dadelik jou sit, skeur dit oop en begin dan lees by die aanhef “Liewe ouers”, . . . tot jy kom by die afsluitingswoorde, “Jul verlangende seun/dogter”.

Nou ja, die tegnologie gaan aan soos hy wil; hoekom sal ek my ou kop daaroor vermoei? Daarvoor is daardie klein “asblikkie” mos daar.

Vriendelike groete.

D. NEL, Clanwilliam

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief.@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.