Ná amper twee dekades as lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Polisiediens is dit nou al tweede natuur om in my motortjie eers my oë toe te maak en dankie te sê voor ek huis toe ry.

Maar op pad huis toe voel ek my motor trek snaaks.

Die band is pap . . . Iemand het dit stukkend gesteek.

Ek bel my kollega. Saam besef ons my domkrag gaan nie werk nie, en hy het ook nie een nie. Ná 10 minute daag my ridder van ’n man op, maar toe moet hy eers die spaarwiel neem om dit styf te laat pomp. Intussen is my kollega toe ook vort.

Ek staan alleen in die koue daar langs die pad terwyl lede van die gemeenskap verbyry sonder dat iemand my vra of hulle kan help.

Dieselfde gemeenskap wat ek beskerm terwyl ek my twee kindertjies alleen by my bejaarde pa moet los. My ma is al jare tevore hemel toe.

Dieselfde gemeenskap wat my ontbied wanneer daar by hul huis ingebreek word, as daar huismoles is, of om ’n lyk te gaan haal.

Dis dieselfde gemeenskap wat warm slaap terwyl ek buite in die koue werk.

En ja, dieselfde gemeenskap vir wie ek die gevaar van die coronavirus trotseer terwyl ek hulle teen die siekte en misdaad probeer veilig hou.

En ek besef met weemoed hoe gering polisielede klaarblyklik deesdae geskat word. Hoe min die gemeenskap omgee, en dat hulle dink ons is bonatuurlike wesens wat maar net alles moet doen waarvoor hulle nie self kans sien nie.

Maar wie’s ek nou om te kla; ek is net ’n sukkelende sersantjie.

–  Sers. A van w