Daar is tye dat skadu’s daal en die duisternis jou lig verdof, maar dan skyn medemenslike liefde soos ’n helder ster in die nag.

So is my horisonne verbreed deur ’n unieke klein vroutjie met die naam Elaine Warwick, ’n gas in Coenie de Villiers se TV-program, Daar’s ’n Plek met Coenie.

Die kort, fyngeboude Elaine het my hartsnare behoorlik geroer. Ek was in trane, trane van hartseer, maar ook trane van blymoedigheid en opgewondenheid.

Dis ’n vrou wat haar man kan staan teen die aanslae van die lewe.

Haar man, haar kinders en kleinkinders is haar hele lewe. Wat ’n wonderlike familie.

Dis ’n familie wat seerkry ken, maar nooit gaan lê het nie. En wat ’n moedige vrou!

Sy het beslis die veggees van ’n stiervegter. Elaine met die hart van goud het my geleer dis die klein dingetjies in die lewe wat saak maak.

Geld en wêreldsgoed het weinig waarde vergeleke met die liefde wat party mense vir ander het. Dankie, liewe Coenie, Elaine en familie.

Antoinette Schoeman, Riebeeckstad