Jy was maar 24. Jou hare pikswart en lagplooie om jou oë. Jy was ’n gelukkige jong man met ’n werk en ’n meisie.

Ek het nooit jou goeie kant geken nie. Net die “verkeerde kant”. Die eerste keer dat ek jou naam gehoor het, was die dag toe my kind besig was om te sterf.

’n Paar weke later het ek jou gereeld gesien. Ek het probeer kyk of jy jammer is, maar jou oë was bot.

Die tyd het jou verander. Jou hare is nou min en grys. Die lagplooie het plek gemaak vir ouderdomsplooie.

Ek kyk soms na jou Facebookblad en wonder hoe my kind nou sou gelyk het.

Ek huil baie oor dinge wat my kind nie gegun is nie. Sy 21ste verjaardag, sy eerste werk, sy troue, sy vrou, sy kinders.

Ek sien hoe jy die lewe geniet en eenvoudig aangaan asof daardie dag nooit gebeur het nie.

Ons was so seker geregtigheid sal vir ons kind geskied. Daar was ooggetuies.

Maar ná soveel jare kon die getuies nie meer alles onthou nie. Jy het daar uitgestap asof jy nooit daar was nie.

Ek dink baie aan die dag toe jou pa sy arm om jou skouer gesit en met ’n glimlag gesê het: “Geluk, seun”.

Ek wonder of jy soms aan my kind dink. Hy was maar 19. Sy lewe het net begin. Hy was ’n goeie kind, broer en vriend.

Hy was altyd vol lewe.

Ek huil baie oor dinge wat my kind nie gegun is nie. Sy 21ste verjaardag, sy eerste werk, sy troue, sy vrou, sy kinders.

Alles wat dalk oor jou pad sal kom.

Wanneer ek na sy foto’s kyk, raak ek stil. Ek besef hy sal altyd 19 wees. Sy hare sal altyd pikswart wees.

Sy lagplooitjies sal nooit in oumensplooie verander nie. Die sprankel in sy oë sal nooit verdof nie.

My kind sal altyd so mooi wees soos die dag toe hy sy laaste asem uitgeblaas het. 

– C