Een dag, ná ma se maandelikse inkopietog, kom sy by die plaashuis aan met twee bokse onder die arm. Sy roep ons en sit die bokse voor ons op die kombuistafel neer.

“Nou hoef julle nie meer die winter kaalvoet te loop nie,” sê sy.

Ons is stomgeslaan. Skoene was die laaste ding wat ons verwag het.

“Sê julle nie dankie nie?” vra ma.

Ons sê saggies dankie, maar dis moeilik om dankbaar te klink.

Ons kan mos nie met skoene oor die bevrore stroompie oor die pad loop nie, want ons sal nie kan voel hoe die yslagie onder ons kraak nie. En wat van die beesmis in die laaste land voor die skool?

By die skool gaan ons beslis gespot word. Ons gaan mos uitgejou word as dorpsjapies, windgatte en softies.

Ons besluit toe om die skoene soggens onder ’n boom weg te steek en dit smiddae ná skool weer te kry.

Ma kon nie glo hoe goed die skoolskoene hou nie.

– Elza, Friemersheim