Dit het my baie kwaad en hartseer gemaak toe ek lees hoe Anoniem uitvaar teen ma’s wat hul kinders alleen in die hospitaal los.

Hier is my verhaal: My seun is in 1972 met gaatjies in sy hart gebore. Ons het destyds in Newcastle gewoon, waar daar nie die regte spesialiste was om hom te ondersoek nie.

Hy is ’n paar keer, een week op ’n slag, in die Johannesburgse kinderhospitaal opgeneem vir toetse.

Ons was nog jonk getroud en geld was nie volop nie. My man moes werk. En ek kon nie heelweek in Johannesburg by my kind bly nie, want ek het niemand in die stad geken nie en ons kon nie hotelverblyf bekostig nie.

Ons moes hom elke keer alleen in die hospitaal los en is met gebroke harte huis toe.

Later is hy in Durban opgeneem en geopereer. Hy was toe 18 maande oud. Ek, my man, ouers en grootouers was in die hospitaal tydens die operasie van meer as sewe uur.

Die briefskrywer moet die Here dank sy kon bekostig om by die kind te bly. Nie alle mammas kan dit doen nie.

Daarna is hy in die waakeenheid opgeneem en kon ons hom net deur die glasvenster sien. Dit was ’n hartseer storie om hom so te sien met al die pype aan sy lyfie.

Die spesialiste het ons gevra om hom nie te besoek nie, want sulke jong kinders huil verskriklik wanneer jy dan weer huis toe gaan.

Vandag is hy 46, baie gesond en onthou niks van daardie hospitaaltye nie.

Die briefskrywer moet die Here dank sy kon bekostig om by die kind te bly. Nie alle mammas kan dit doen nie.

Sy moenie haar mond uitspoel oor ander en hulle veroordeel nie, want sy ken nie hul omstandighede nie en loop nie in hul skoene nie. Andrèe Kotze

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.