Na ’n sinkhuisie sonder vensters. Lockdown het dié armoedige gemeenskap soos ’n tornado getref wat alles in sy pad wegvee, ook die laaste werk wat te vinde was.

Die mense maak staat op kospakkies van die regering, waarvan bitter min die sinkhuisies bereik.Mense is werkloos, dakloos, kosloos.

Ware armoede skok ’n mens soos jou buurman se veiligheidsheining as jy per ongeluk daaraan raak. Dis rof. Dis nie vir sissies nie. Steeds is die mense trots.

Trots om my te wys waar hulle woon en wat hulle doen. Trots om gesien te word. Ek kan nie help om te wonder hoe hulle moed hou nie, hoe hulle volhard nie.

Ek verlang na my gesin. Die traanstrepe oor die wange van die kinders wat hier in die stofstrate speel, laat my aan my eie seuntjie dink.

En ek verlang na my eie warm bed in my huis met baie vensters. En dan besef ek dat Noag bloot vertrou het en geweet het die storm sal eendag bedaar. Hy het vertrou op die dag van môre; dat hy wel anderkant sal uitkom, net soos die mense in hierdie gemeenskap van sinkhuisies sonder vensters.

Solank jy vertrou, gaan jy wel anderkant uitkom. Ons gaan weer ’n normale lewe hê, ons gaan weer kuier, en ons gaan eendag terugkyk en vir mekaar sê: “Jis, onthou jy daai tyd?”

Môre pak ek my tas en ry die 600 km terug na my eie huis. Maar ’n deel van my sal altyd in Limpopo agterbly, in die sinkhuisie sonder vensters waar ek my menswees herontdek het.

– Anoniem