Saterdagaande het pa in sy gemakstoel gesit terwyl ek vir hom speel. Ek dink die klanke van Side by Side, Remembrance en Moon River het hom aan die slaap gesus.

Maar hy het altyd dankie gesê wanneer die laaste akkoorde wegsmelt. Dit was in die middel 1970’s toe ek begin leer het om die Zimmermann se klawers te druk, nes oupa en ma voor my.

Ure en jare van moedeloosheid, maar ook genot, het gevolg. Altyd gewonder hoeveel oupa vir die klavier betaal het. Spesiaal met die skip laat kom. Kleintyd was sy houtkrat nog in die pakkamer op die plaas.

Vergeet ’n mens ooit daardie grootwordhuis?

Onlangs vertel my seuntjie hy verlang terug na ons “Karoohuis”. Daar waar ek die pragtige Zimmermann met sy goue kandelare moes agterlaat.

Die hartseer is dat die plaas en my ouerhuis nou onlangs uit ons familie is. Maar tesame met daardie verlies is ook vreugde: Die Zimmermann is gered en staan hier in my eie gesinshuis in Port Elizabeth. Mooi afgestof. My droom van kleintyd bewaarheid: Dis nou myne.

Vanaand kon ek weer soos Saterdagaande van ouds klavier speel. Al die ou bladmusiek uit die klavierstoeltjie. Party se pryse nog in pennies gemerk. Ma se aantekeninge oral en ook oupa se stuk wat hy so graag gespeel het.

Ek kan nie wag om daardie mooi duet van Beethoven saam met my jongste, Annelie, te bemeester nie. Al vat dit ons vir ewig. Die Zimmermann staan soos toentertyd weer gereed.

– Lynette Strydom, Port Elizabeth

Skryf vir ons