Haar hart pyn van verlange en haar gedagtes dink aan hoe dit sou gewees het as dinge anders uitgewerk het.

Ná die oproep ses maande gelede het sy vergeet hoe om gelukkig te wees. Alles is op een slag van haar weggeruk.

Die stem aan die ander kant van die lyn het vir haar gesê daar was ’n ongeluk. ’n Ongeluk reg van voor, die een voertuig ’n blou Volkswagen Polo; die ander ’n Isuzu-bakkie. 

Haar verstand het geskree: “Nee, dis onmoontlik! Dit kan nie wees nie.”

Sy het besef haar lewe gaan vir altyd vol winter wees en dat sy nooit weer dieselfde mens gaan wees nie.

Toe is die lyn dood. Sy het die foon laat val en bly sit. Sy weet nie hoe lank sy so gesit en gehoop het dis net ’n nagmerrie waaruit sy sal wakker skrik nie.

’n Klop aan die deur het haar na die hede teruggedwing. Sy het die deur oopgemaak en ’n polisiebeampte met ’n hartseer uitdrukking op sy gesig het voor haar gestaan.

Sy het onmiddellik geweet dis nie ’n nagmerrie nie. Dis die harde werklikheid van die lewe.

Alles wat vir haar belangrik was, is meteens weggeruk.

Die beampte het sag gepraat. Hy het gesê daar was ’n botsing en nie een van die voertuie se bestuurders het dit oorleef nie. Hy het gesê sy moet saam met hom gaan om die liggaam uit te ken. 

Sy het haar kop geknik terwyl die trane oor haar wange stroom.

Die liggaam is in die lykshuis uit­gestal. Hy het ’n paar kneusplekke gehad, maar was nog so mooi soos altyd. Maar die spontane lag was weg. 

’n Rou snik het deur haar liggaam geruk. Sy het besef haar lewe gaan vir altyd vol winter wees en dat sy nooit weer dieselfde mens gaan wees nie.

– Anoniem