Net nadat my ma eindelik by die huis aangekom het, het my pa siek geword – covid. Hy het baie sleg gevoel, baie gelê en min geëet. My ma het ’n paar dae later ook nie wel gelyk nie. Sy het nogal gemeld dat sy die huis goed skoongemaak het – ingeval sy ook covid kry. En dit nie eens twee weke ná haar nekoperasie nie.

Ek bel haar gereeld en elke keer verseker sy my sy’s oukei.

Gister kry ek ’n oproep. Sy sê sy het ’n probleem, haar motor se band is pap by ’n hospitaal waar sy is nadat sy haar vir covid laat toets het. Ek skrik my boeglam. Sy het met nekstut en al alleen gery.

Ek klim dadelik in my kar en haas my na haar toe. Daar aangekom sit sy stywenek in haar motor en wag. ’n Dierbare man het kom help met die band.

Ek vra toe of ek nie maar huis toe kan bestuur nie. Sy antwoord dis dalk ’n goeie idee, sy kan net vorentoe kyk en dis moeilik by die vierrigtingkruisings . . .

Sy het besluit om alleen hospitaal toe te ry uit vrees dat sy wel covid het en dat sy een van ons kan aansteek. En toe haar toetsuitslag kom, was dit positief.

Ek meld op ons familiegroepie dat ek dalk haar motorsleutels moet wegsteek, want besig wil sy altyd wees, nekoperasie en covid ofte nie.

Ma reageer net met ’n glimlag-emoji, want niks kry haar onder nie.   

LIZA NEL

Skryf aan ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie.
  • Jy kan vir ons kort briewe SMS na 36489. Begin met die woord HGBRIEWE. Elke SMS kos R1.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300.