Met een van ouma se kuiers het ek besluit om te toets wat die vinnigste is – die skilpad of die konyne. Ouma was die skeidsregter. Ek het die fluitjie geblaas en die drie losgelaat. Die konyne het na die groentetuin gehol en die skilpad het na die bure se huis gemik.

Ouma het Dopper gekeer en ek het agter die konyne aangehardloop. Ons begin toe weer. Die fluitjie is geblaas. Dopper het gaan staan en sy kop ingetrek. Die konyne het weer groentetuin toe gehol.

Ons het besluit dis gelykop. Een aand het honde die konynhok oopgebreek en die volgende oggend was die konyne skoonveld. ’n Paar maande later was dit net wit konyntjies waar jy kyk.

Saans het jy net ogies in die ligte van motors sien blink. Andersins was hulle in die bure se groentetuin. Ek het probeer om hulle te vang, maar sonder sukses.

Mettertyd het hulle minder geword tot hulle heeltemal verdwyn het. Óf die honde het hulle geniet óf die bure het pastei gemaak. Ek sal nooit weet nie.

– Connie Medlen