Huisgenoot se artikel oor die droogte in die Noord-Kaap verwys (Op ons knieë weens die droogte, 3 Oktober).

Ek wil van my sussie en swaer vertel. Die foto’s wat hulle van die plaas in die Groot-Karoo stuur, is hartverskeurend.

’n Verswakte springbokkie spartel om op te staan. ’n Angorabokkie soek iets te ete waar niks is. Soveel diere het al gevrek of geaborteer.

Die bokke en skape hardloop blêrend agter die bakkie met voermielies aan. Sodra my swaer of sus die bakkie se deur oopmaak, druk die diere hul kop in op soek na kos. Hulle ry deur die veld en sien koedoes wat aan drade hang nadat hulle te swak was om oor te spring op soek na weiding.

Dooie skilpaaie, dorre doringbome . . . Alles gaan dood.

Hoe uitmergelend en rampspoedig is die langdurige droogte nie.

My swaer is van voerskenkings afhanklik, want die reën bly al vier jaar weg.

Hoe gemaak wanneer jy in murg en been ’n boer is?

Hulle is geknak en kan net nog ’n rukkie langer probeer vasklou en hoop.

Elke dag is genade, elke dag leef jy in nederigheid voort, elke dag hoop jy op reën.

Vader, wees genadig.

– Kleintjie Smalberger

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.