Ná ’n huwelik van 30 jaar het my man en die pa van my kinders groener weivelde gevind.

Maande lank kruip ek weg tot ek besef op die ouderdom van 50 het ’n mens nog ’n lewe.

Ek gaan koop nuwe klere, berei weer goeie kos, beplan my nuwe huis en tuin en drink tee uit my mooi koppies.

Sommige dae is moeilik. Sekere datums en musiek krap my om. ’n Pyp wat bars, is ’n nagmerrie.

Naweke is moeilik. Vriende nooi jou nie meer nie. Jy leer om op jou eie ’n vuurtjie aan te steek, ’n wyntjie te skink en net terug te sit.

Dan besluit jy jy is nie oud nie en kan nog ’n goeie verhouding of huwelik hê.

Ek laai ’n app af. Ek knoop geselsies aan en skei die kaf van die koring.

Skielik is daar ’n man. Iemand wat sê hy wag al sy lewe lank vir jou.

Sien ek kans? Ja!

Ons bly ver van mekaar, maar kuier gereeld. Nou is dit lekker om ’n 50-jarige tiener te wees.

- A, Bloemfontein

  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300. 
Kom neem deel aan die gesprek!