Pa sou vandag 77 jaar oud gewees het. Maar vandag eet ons nie koek nie, want dit is pa se eerste verjaardag in die hemel.

Ná vyf maande voel dit steeds onwerklik. Dit voel of pa hier moet wees sodat ons kan lag en stories vertel.

Sedert pa weg is, is koeksisters nie meer dieselfde nie. Ek mis die tweede koppie tee saam met pa en om te kyk hoe pa daardie tweede bord kos so geniet.

Ek lag wanneer ek dink aan die tye dat ek saam met pa kon boer op die plaas. Onthou pa daardie keer toe ons die waterpyp moes regmaak?

Ek was toe nog fiks. Pa ook.

Pa het hom met een hand oor die doringdraad geswaai. Ek onthou die pyp waar die water uitstroom en die volgende oomblik die hand waar die bloed uitstroom. Ek moes koelkop bly. Pa het die opdragte gegee en ek was die boer.

Daarna moes ek die 47 km dorp toe jaag sodat pa kon steke kry. Ek weet nou nog nie wie daardie dag die bleekste was nie.

Oral waar ek kom, dink ek aan pa. Of dit nou langs die krieketveld is waar die kinders krieket speel en of dit ’n mooi koedoe is wat ek afgeneem het om vir pa te kan wys.

Saterdag het ek nog gedink pa sou seker bly gewees het om die Stormers se nederlaag mis te loop. Pa was nooit een van daardie aanhangers wie se stem ál harder geword het hoe meer opgewonde pa geraak het nie.

’n Mens kon aan pa se natgeswete hande die passie sien wat pa vir rugby het.

Dankie, pa, vir die baie wat pa vir ons gedoen het.

Dankie dat pa altyd daar was vir ons, ons teen gevaar gewaarsku het en vir ons ’n voorbeeld gestel het.

Pa was my broer se held en my eerste liefde.

- Lynette Strydom, Port Elizabeth

  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300
Kom neem deel aan die gesprek.