Dit was geskenke van my skoonma. Sy was tog so lief vir polkakolle, op bloese, rompe of serpe.

In boeremusiek is daar ’n soort styl wat “die polka” genoem word. My pa het my eerste daarvan vertel. En jy kan natuurlik polka op die dansvloer ook.

The polka is originally a Czech dance and genre of dance music familiar throughout all of Europe and the Americas. It originated in the middle of the nineteenth century in Bohemia, now part of the Czech Republic,” verduidelik Wikipedia.

Die woord polka laat sommer ’n mens se voete kriewel. Dit bring ’n vrolike, fleurige ligtheid in die gemoed. Dis hoekom die slimmes aan plekke name gee soos Polkadraai-aarbeiplaas, Polkadraai-oord, Polkadraaistraat, en selfs Polkadraai-wyn.

Maar die afgelope jaar polka ons nie meer nie. Is ons voete stil in tuisbly omdat ons vir ’n vreemde virus wegkruip. Ons polka nie – paartjies durf mekaar nie lyfdruk-vashou in ’n two-­step-naby-vat waar draai en swaai die vure van ons lekkerkry help hoogblaas nie.

Maar wanneer dit Saterdag is, kan elke gesonde lyf tóg polka. Al polka ons alleen. Solo-polka om my kombuistafel wanneer RSG ’n uit-die-nate-pols-liedjie speel. Of voete-­klop-polka wanneer tant Fien in Huis Op Die Kruin ’n dansvideo van haar kleinkind in Madrid kry.

En so haal ek maar tog weer een van my vrolike kolleserpe van die hanger af. Vir my gemoed.

Want al het ons wêreld nou vir ’n wyle polka-arm loop halt, kan die dans in my siel nie vir altyd two-step-stil durf raak nie.

HANLIE NEL-SMITH, Stellenbosch

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief.@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie. Die skrywer van die wenbrief kry R300.