Hoe vetter jou beursie, hoe meer voordeel kon jy trek. Ander van ons met min rande moes mooi beplan om darem ook daarby baat te vind.

So gaan my gedagtes terug na ons grootwordjare toe my pa die enigste broodwinner in ’n gesin van ses was. Jy kan maar sê elke maand was Swart Vrydag, want ons moes mooi dink wat en waar ons koop om die rande te kan rek.

Dit sal my altyd bybly hoe ons gemaan is om alles spaarsaam te gebruik. En dit wat klaar was, was klaar, tot ons ouers met maandeinde weer kan koop.

My pa het ons meesal dopgehou en aangespreek oor die margarien en konfyt wat dun gesmeer moet word. “Dis nie nodig om dit so dik te plak nie!” hoor ek vandag nog wanneer ons broodjies smeer.

Daar is geluister hoe lank ons badwater inloop: “Dis genoeg, draai toe!” Ons het dadelik gehoor gegee en geglo dis hoe dit in al die huise werk. Ek kan vandag nie tande borsel sonder om te onthou hoe ons die laaste bietjie uit die buisie moes dwing nie.

Die groen skottelgoedseep? Net een teelepel op ’n slag soos die advertensie voorskryf! Leë kartoneierhouers met ’n bietjie ou olie het vuuraanstekers geword, en ou koerante het die vensters goed laat blink. Die voorbeelde is eindeloos.

Ons het besef oordeelkundige gebruik het dieselfde effek op ’n begroting as afslagpryse: Dis nou heeljaar Swart Vrydag.

EMLEY

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.