In die winter van 1960 was ek ’n appie by die poskantoor op Orkney. Destyds het ek nog ’n losieskamer op die dorp met Abel Pienaar gedeel.

Een koue Vrystaatse winternag, dit was ’n Woensdag, nooi Abel my om saam met hom en sy ouers koffie te drink en na musiekplate luister.

Met die ysige wind om ons ore sit ons toe in sy oop Jeep af na sy ouers se huis op die Vaalzicht-plotte. Daar gekom, sukkel Abel om die geprakseerde hoëtroustel, wat met ’n karbattery werk, op die sitkamervloer aan die speel te kry.

Hy stuur sy kleinsus, Christa, om solank koffie te maak. Ná ’n rukkie kom kleinsus, met ’n swart roetstreep oor haar wang, hulp soek om die primus-stofie aan die gang te kry.

Ek was heel behendig met dié soort goeters en het gou die vlammetjie onder die ketel aan die brand gekry. Toe ek opkyk, staar die groot, blink oë van die pragtige meisiekind my in bewondering aan.

Ek besef Kupido het sy werk baie goed gedoen.

Ek was toe 19 en sy 15 jaar oud. Kupido het net daar sy hartpyltjies kolskote laat tref.

Toe ons met die koffie die sitkamer binnegaan, word ons begroet met die soet klanke van Caro Nome wat uit die harwar van die vloer af opstyg.

Ná matriek het sy as verpleegster begin werk. Ek onthou nog daardie dun middeltjie waarom ek my twee hande so kon sit.

Ek besef Kupido het sy werk baie goed gedoen. Op 6 Februarie 1965 is ons getroud en het ons die grootmenswêreld met mening aangepak.

Daardie groot, blink ogies staar steeds in myne en ná 53 jaar is ons steeds gelukkig bymekaar.

Ons innige dank aan die Groot Gewer dat Hy ons soveel liefde vir mekaar gegee het, en dat ons vreugde en hartseer deur soveel jare kon deel. Gys en Christa Botha, Vierfontein

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.