Jou woord “kapasiteit” neem my terug na 2009 toe meervoudige sklerose (MS), net so ’n ernstige daaglikse stryd as motorneuronsiekte, by my gediagnoseer is.

Ek het op die plek die besluit geneem: Ek sal alle inligting hieroor inwin wat ek kan, maar dan het ek klaar gewroeg en leef ek daarmee saam.

Ek het dit diep in my gedagtes en hart weggebêre en toe het ek besluit om te lééf.

Ek werk in die eiendomsbedryf, wat glad nie maklik is nie. Inteendeel, dis baie stresvol, en dit was ook een van die dinge wat ek moes leer bestuur.

Om gereeld in die hospitaal op my “groen mamba” te gaan lê was ook nie ’n grap nie – veral nie so alleen nie. Maar ek het besluit my kinders hoef nie elke keer hiervan te weet nie; dit is my reis.

Gebed en nogmaals gebed, gaan slaap en foon afsit te midde van alles . . . En ek moes myself weer van voor af leer ken.

Tog kon ek 2019 met ’n groot verrassing afsluit.

Ná ’n baie lang MRI-skandering het ek hoopvol in dr. Lennard se kantoor op hom gewag. Toe hy die deur agter hom toemaak, kyk hy my vol in die oë en vra wat het ek dan gedoen?

Ek kon net verstom na hom luister terwyl hy verduidelik daar het ’n groot verandering ingetree: Ek is nou wel nie van MS genees nie, maar het ook glad nie verder verswak nie!

André, jy is op die regte pad. Luister na jou liggaam, bid baie en gebruik die kapasiteit wat jou liggaam jou vandag toelaat. Ons kies hoe ons dinge in ons lewe hanteer. 

Marietjie Coetzee