In Huisgenoot se briewerubriek van 26 Oktober en 16 November is onder andere deur ’n voormalige skoolhoof te velde getrek teen onderwysers wat kinders verskree.

Ek stem heelhartig saam, want as kind was ek ook die slagoffer van ’n boelieonderwyser. Gelukkig kon ek my mettertyd van die trauma daarvan losmaak deur my tot vergifnis te wend.

Ons moet wel nie versuim om erkenning te gee aan onderwysers wat reg met kinders werk nie. Ek het op Nigel aan die Oos-Rand grootgeword. Die Laerskool Tini Vorster en Hoërskool John Vorster is my alma maters.

Van die onderwysers daar het ’n goeie, blywende indruk op my lewe gemaak. Dié onderwysers het nie net intens in jou as leerder belanggestel nie; hulle het selfs tydens krisisse tuis ingestaan.

Ek kan nie anders as om aan mense soos Martie van der Merwe, Pyp van der Heever, Erica Moller, Hesta Roos en ma’am Van den Berg hulde te bring nie. Ek salueer al sulke onderwysers.