Ná 17 jaar het ek my grootste vriend, lyfwag en hondekind weens kanker verloor.

Jy met jou bruin ogies was die mooiste Jack Russell.

Ons is baie hartseer en vra kort-kort: Hoekom jy? Jy, wat net vreugde in ons lewe gebring en so mooi gekyk het na jou vroutjie, Miekie, en dogtertjie, Peanut.

Wie gaan my nou met ’n opgewekte blaffie kom roep wanneer die pos of koerante afgelewer is? Jy was my wekker, my beskermengel, een van my kosbaarste geskenke en besittings.

Vanoggend toe ek my wasgoed ophang, het ek jou getroue skaduwee so gemis. Jy was my beste vriend wat menigmaal my hartseer verdryf het wanneer jy styf teen my kom lê het met jou nat snoet en warm, liefdevolle lyfie.

En nou is jy ook my inspirasie om meer te doen vir die Dierebeskermingsvereniging (DBV). Dis hoe ek jou nalatenskap sal eer.

Ek het net die hoogste respek vir dié wonderlike mense en die onbaatsugtige werk wat hulle doen om verwaarloosde en verstote honde te red en hulle ’n kans op ’n beter huis te gee.

Ek vra almal in die ganse wêreld: Kyk asseblief mooi na jul hondekinders? Hulle is aardse engele wat ons bejaardes en ook ons kinders se lewe verryk en beskerm. As ’n verhongerde, verwaarloosde hond oor jou pad kom, neem hom of haar DBV toe.

Of koop ’n sak hondekos en neem dit na jou naaste DBV. Vandag wil ek aan elke hondekind en -liefhebber ’n versie opdra: Ek speel vir jou Mozart en Bach en pluk vir jou blomme vrolik maar sag. Geel en blou en pers skryf ek vir jou ’n omgeevers, ’n vers om teen jou hart te hou, Want mens ek hou van jou.

Rus in vrede, my liefste Klippies.