"Ek weet nie wanneer dit begin het nie . . . dalk reeds voordat ek vier jaar oud was?

Wat ek wel baie goed onthou, is die kere selfs voor my vyfde verjaardag en daarna. My broer was 11 jaar ouer as ek, en in die koshuis taamlik ver van die huis – maklik 2 ure se ry. Dit was destyds die naaste hoërskool. Hy was 15 toe ek vier jaar oud was.

In my geheue het dit so begin: van kleins af was ek gefassineer deur penne, skryf, prentjies teken . . . Hy het dan vakansies, wanneer hy kom kuier het, van sy ou skoolboeke se leë blaaie uitgeskeur en daarmee saam van die penne vir my gegee, maar in ruil daarvoor moes ek eers vir hom 'n guns doen.

In daardie stadium het ek niks daarvan gedink nie, ons was gewoond daaraan en geleer dat jy moet werk vir wat jy wil hê. Mens kry niks verniet nie. Ek het dus die takie afgehandel so gou as wat ek kon sodat ek met die penne kon gaan teken.

Ek onthou die eerste keer: dit was vir 'n kort rukkie interessant om die deel van sy anatomie te sien, en te beleef wat daarmee gedoen kon word. Ek was egter weer net so gou verveeld daarmee, want dit het my geensins geraak of enige voordeel vir my ingehou nie.

Wat die nadele van hierdie vervelige takie op my psige sou hê, veral in my eie tiener- en grootwordjare, sou ek nie eens aan dink daar, alleen in die kamer wanneer die ander nie by die huis was nie. Wat het ek in elk geval van masturbasie geweet?

Skryf kon ek nog nie, want ek was nog nie op skool om die alfabet se letters te leer nie. Dit het eers later gekom.

Ek onthou hoe hy my fluisterend gelei het, hoe ek moes maak sodat hy die mees genotvolle tyd uit die oefening en natuurlik waarde vir homself uit die penne en papier kon kry. Later die aand sou ons aan etenstafel sit, ek ewe trots steeds met die penne besig om te teken. Skryf kon ek nog nie, want ek was nog nie op skool om die alfabet se letters te leer nie. Dit het eers later gekom.

Dan, terwyl ek teken, merk ek terloops op dat ek gewerk het hiervoor, dat ek die gunsie moes doen om die kosbaarhede te verdien. 'n Doodse stilte het plotseling om die tafel neergedaal. My pa het geskok na my gekyk, my ma het haar oë na die vloer neergeslaan. Aan die stilte en vreemde reaksie het ek my weinig gesteur en net gekonsentreer op die lyne wat ek op die papier kon optower.

Wat Dirkie se reaksie langs die tafel was, weet ek tot vandag toe nie, want ek het op die tekenwerk voor my gekonsentreer. My ouers het wel vinnig die onderwerp verander en my ongestoord laat voortgaan met my eie tydverdryf.

Of hulle dit ooit verder hanteer het, sal ek ook nooit weet nie. Ek dink egter hulle het dit net daar gelaat. Seksuele dinge was 'n taboe-onderwerp en die bespreking daarvan is ten alle koste vermy.

Dikwels, byna elke keer wat hy my gesien het, het hy gesê dat hy my haat! Ek het dit nooit verstaan nie, waarom my ouboet my so verag het nie.

In die paar dae daarna het hy my met wrewel behandel. Daardie tyd het ek dit nie geweet of verstaan nie, maar vandag – ná 54 jaar – besef ek dat sy reaksie gebore is uit die verleentheid wat ek hom aangedoen het deur my ‘groot mond’.

Sy haat teenoor my het met die jare ook gegroei. Dikwels, byna elke keer wanneer hy my gesien het, het hy gesê dat hy my haat. Ek het nooit verstaan waarom my ouboet my so verag het nie. Na my mening het ek niks verkeerd aan hom gedoen nie. Hy het in daardie tyd dan vir my ‘waardevolle items’ gegee.

Die verwerping was meer pynlik as enigiets anders. Ek het sy guns bly soek. Het die mense in die ou tyd nie ook gesê dat 'n hond agter die een aanloop wat hom skop nie? Dalk was dit met my die geval. Ek wou hê hy moes van my hou, dat hy vir my ook sal omgee soos vir ander.

Nogtans het die ‘gunsies’ nooit opgehou nie. 'n Paar dae ná die eerste voorval wat ek kan onthou, asook gedurende die daaropvolgende vakansies, het die proses herhaal. Keer op keer, en telkens het ek vertel, en ná elke vertelling het hy my nog meer verag. Dit het aangehou tot ek 12 jaar oud was. Sporadies, nie gereeld nie, maar tog.  

Daardie laaste keer was kort voor sy troue. Hy was toe 23 en ek was 12 jaar oud. Ek het meer bewus begin word van die seksuele behoeftes van mense. En ek was skaam, want ek wou dit vermy. Ek het geen behoefte daaraan gehad nie, en het geleer hoe 'vuil' seks is.

Hy het my na die donker kamer ontbied, daar waar ek nie wou wees nie. Maar omdat hy my so verag het, wou ek so graag sy guns probeer wen. Ek wou nie gehaat of verag word nie. Die lewe was alreeds deurmekaar genoeg na my ouers ná my agtste verjaardag geskei het en ons die juk van 'n alkoholverslaafde stiefpa moes dra.

In die sewentigerjare was 'n egskeiding 'n rare ding, en op die platteland 'n verskriklike skande . . . veral as die vrou skuldig was aan 'n buite-egtelike verhouding wat aanleiding gegee het tot die verbrokkeling van hul huwelik. Dit was erg. Ouers het selfs hul kinders belet om met my maats te wees. Hulle is gewaarsku dat ek as kind uit 'n gebroke huis hulle sou besmet.  

Nietemin, daardie laaste keer was veragtend. Ek het naar geword. Ek wou nie en het weerstand gebied, maar tog weer teësinnig ingegee. Ek kon dit nie verstaan nie – dat hy steeds die behoefte gehad het noudat hy op trou staan nie. Dit was so verwerplik. Hy het, net soos daardie heel eerste keer byna agt jaar tevore, my fluisterend gelei om te doen wat hy wou hê. Maar dit het vir my te intens geraak, te besmetlik.

Ek het losgeruk en pad gegee. Ek het so vuil en gebruik gevoel. Ná alles het hy nog nooit van my gehou nie, en daarvan het hy geen geheim gemaak nie. Maar ek was ouer, ek het toe al geleer van reg en verkeerd, en ek het my mond dié keer gehou. Ek was bang om te praat. Ons huisgesin was bloot te deurmekaar.

In my grootmenswêreld het ek besef dat Dirkie my maar net vir sy eie genot gebruik het, en dat hy kwaad vir my was omdat ek daaroor gepraat het. Ek het buitendien myself leer haat. Ek was verwerplik, het geen reg op lewe gehad nie. Ek het geglo dat ander mense my bloot verdra, dat hulle my 'n guns doen om my toe te laat om tussen hulle te lewe en asem te mag haal.

Nogtans was ek nooit kwaad vir Dirkie nie. Inteendeel, ek het jammer gevoel vir hom omdat daar duidelik iets in sy lewe was wat 'n leemte veroorsaak het. Het hy self aan verwerping gely? Was hy dalk sélf in die koshuis gemolesteer? Selfs tot met sy dood op 'n jeugdige ouderdom het ek hom nooit verkwalik vir enige iets wat in my lewe verkeerd was nie.

So dikwels egter vra ander mense: “Waarom nou, waarom ná soveel jare daaroor praat? Gaan dit oor geld?” wanneer slagoffers bieg oor wat met hulle gebeur het. Maar ek kan vir julle sê: Dit gaan nie oor geld nie. Dit gaan oor erkentenis.

Al wat die slagoffer wil hoor is dat dit nie sy/haar skuld was nie, dat die volwassene op 'n verbode terrein oortree het en die kind se onskuld en weerloosheid vir hul eie wellus gebruik het. Dit is egter vir oortreders ondenkbaar om daardie klein gebaar van welwillendheid en restitusie te doen.

Ek was maar net 'n klein seuntjie, onskuldig in hierdie ding vasgetrek.

Dit is al."

* Skuilnaam

Is jy dalk 'n slagoffer van seksuele teistering? Hier's hulp