Ma en pa is al oud en woon in George. Ek woon op Hartenbos. My swaer Jan se vrou werk in Doebai en dus is hy, wat ook in George woon, die een wat altyd daar is om te help as ma val of as iets in ons ouers se huise breek, want pa kan nie meer altyd die nodige doen nie.

Op ’n dag vind ek uit ek het maagkanker.

Die operasie was darem nie baie erg nie, en ek het genadiglik gou daarvan herstel. Maar daarna moes ek in George chemo en bestraling kry.

Om elke keer van Hartenbos af te ry daarvoor sou nie deug nie. Ek gaan bly toe by my swaer Jan in George vir die duur van die behandeling.

Elke oggend vir ’n maand lank het hy my na die hospitaal se kankerafdeling geneem. Daar het hy tussen al die ander siek mense rustig vir my sit en wag tot ek klaar was. Ná die vierde dag se behandeling begin ek regtig siek voel.

Ek is naar en Jan dra kossies en naarpille aan. Daar was dae dat ek nie wou gaan vir die sessies nie, dae dat ek net wou opgee. Maar Jan het my maar altyd weer moed ingepraat, tee aangedra, en ek kon rustig kou aan sy heerlike beskuit wat hy self gebak het.

Ná ’n maand hiervan het ek weer soos ’n mens begin voel en het ek en Jan op sy motorfiets geklim en die Karoo gaan ruik en proe. Dit was net hemels.

Dankie, Jan, dat jy altyd daar is vir pa en ma en my deur dié moeilike tyd laat huppel het. En as ek raad nodig het, weet ek altyd waar om die beste raad te kry. Jy is my bestie.

– KATJA

Skryf aan ons