Dit het soos ’n gewone dag begin. My telefoon het so halftien gelui, ’n privaat nommer. Ek het eers gewonder of ek hoegenaamd moet antwoord. Toe tel ek maar op. Dit was my kind se dokter: Ons moes hom gaan sien. 

Die middag by die spreek­kamer wou die dokter eers alleen met my praat. Skielik was ek be­noud – wat nou? Ek wou nog sommer staan, maar die dokter het my aangeraai om te sit.

Mamma het my geleer om altyd voorbereid te wees, maar niks kon my voorberei op wat hy my toe meegedeel het nie: Brendon het kanker.

Ek het die dokter hoor praat oor die behandeling, maar niks verstaan nie. Al wat ek gedink het, was nee, dit kan nie wees nie – my Brennie het brein­kanker. Ek het ontroosbaar gehuil.

Toe vra die dokter: Wie gaan vir Brendon sê?

My hart het verskriklik geklop en ek was in skok, maar ek het my reggeruk. ’n Vrouedokter het ’n vrolike, niksvermoedende Brendon ingebring.

Hy het my een kyk gegee en gevra: “Wat’s fout, Mamma?”

Ek kon net hulpeloos-­vraend na die dokter kyk, en hy val toe met die deur in die huis. Tot my verbasing het Brennie geantwoord: “Maar dis mos nie so erg nie.”

Ek onthou tot vandag toe niks oor die rit huis toe nie. Tuis het ek die naaste familie gebel. Almal het vrae gehad, maar ek het nie antwoorde gehad nie. Net ’n groot leegheid.

Maandag 27 Februarie sal vir my nooit weer net ’n datum op die kalender wees nie.

DESI VAN DEVENTER

Skryf aan ons
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.