Ek kuier gereeld by ’n sorgsentrum waar ek die ware naarheid van alzheimersiekte sien (Die gees wat geen vergeet kan verdoof, 14 Maart).

Weet jy hoe dit voel wanneer jou ma oor haar ouers huil wat al 50 jaar dood is?

Sy wil blomme op hul grafte gaan sit, maar jy is 600 km van die grafte af.

Jy troos en kalmeer, maar ’n uur later herhaal die hele storie.

En weet jy hoe dit voel wanneer jou ma haar slaapbroek bo-oor haar langbroek aantrek en op ’n Sondag, wanneer die sorgsentrum besig is, in die gange afstap en al die gaste lag vir jou ma?

Of as jou ma op en af deur die sentrum stap op soek na haar kinders sodat hulle kan kom eet en huiswerk doen?

Of as jou ma botter en konfyt op Weet-Bix smeer en dit soos ’n toebroodjie eet?

As sy die melk aangee as jy die suiker vra en sout in haar koffie gooi?

Op sommige dae voel ek of ek haar aan die skouers kan skud en sê: “Kom net by.”

As mense net kan besef wat die bitter werklikheid van alzheimersiekte is, sal daar dalk meer emosionele en finansiële steun wees vir diegene wat deur hierdie hel moet gaan.

– Anoniem

Skryf vir ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com.
  • Briewe moenie langer as 200 woorde wees nie.
  • Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die redaksie nie.
  • Die skrywer van die wenbrief kry R300