Verlede jaar het hy besluit om ’n plan te maak sodat hy aan sport kan deelneem.

Hy het hard begin werk om daardie ekstra rolletjies te laat verdwyn. Wanneer hy by die huis is, eet hy gesond. Die grootste probleem vir hom was die snoepie by die skool, want daardie ongesonde kos was onweerstaanbaar.

Wat nog te sê die lekkergoed. Gelukkig het hy betyds besef sy gewig lê in sy eie hande. Hy het nie meer sy sakgeld gebruik om goed by die snoepie te koop nie.

Ná harde werk is hy nou op ’n gesonde gewig, reg vir die nuwe jaar se rugby. Hy het so hard probeer om in die span te wees en onlangs het hy sy eerste rugbywedstryd gehad.

Hoewel hy net ’n reserwe was, was hy deel van die span. Terwyl die wedstryd minuut vir minuut verbygegaan het, het die afrigter elke keer verby my kind gekyk. Teen die einde van die wedstryd was my kind daar waar hy begin het: op die bank.

My hart was aan skerwe. My kind se hart was seer. Ná al die harde werk waardeur hy is, kon hy nie eens 10 minute kry om homself te bewys nie.

Ek wou na die afrigter toe gaan en vir hom sê: “Besef jy wat jy aan my kind doen?”

Ná die tyd was ek die een wat my seun moes troos. Ek het vir hom gesê die meneer was so besig met die fluitjie, hy het skoon van hom vergeet.

Maar my kind is nie dom nie. Hy dink hy is nie goed genoeg nie.

Ek smeek afrigters vandag: Julle maak of breek ons kinders. Kyk wat julle aan die kinders doen as julle ander kinders voortrek.

– Anoniem

Skryf vir ons