Ek het oornag in ’n rooigesigdraak verander. My gesig was die een dag nog normaal. 

Die volgende dag het dit heeltemal verander. Waar ek iemand was wat nog in die spieël kon kyk, kan ek nie meer nie. My gesig is permanent rooi: oor my neus, onder my oë, my wange, my slape en my voorkop.

Soms wil dit lyk asof die rooi ’n bietjie bedaar. Dan is daar ’n sprankie hoop in my. Miskien gaan my rooi gesig weer normaal word. Maar dan kom die geringste spanning, son, hitte, koue en wind, en die rooi is weer daar.

Dan praat ek nie eens van wat alkohol, sekere kossoorte en velprodukte aan my gesig doen nie. Dit slaan uit in ’n rooi kors en knoppies wat lyk soos aknee.

Ek het ure voor die rekenaar gesit met my vrae.

Eindelik het die antwoord gekom: Rosacea, ’n toestand wat rooiheid aan die gesig veroorsaak en gewoonlik gepaardgaan met klein rooi ettergevulde knoppies. Dit is ongeneeslik. Dit gaan vir altyd deel van my wees.

Volgens statistieke ly baie volwassenes aan hierdie toestand, en ek is een van hulle. Tot my bittere spyt.

Oral waar ek kom, het iemand iets te sê. In die winkel moet ek hoor: “Sjoe, maar die son het jou geklits,” of: “Is dit gloede weens menopouse wat jy so kry?”

Dan wens ek die aarde wil my insluk. Ek is ’n verleentheid vir my man en dogter. My sosiale lewe ly daaronder, want ek wil nie mense sien nie.

Ek het alles probeer, van salf tot aalwynsap en die duurste velsorgmiddels. Ek het my met grimering beplak om dit te verdoesel, maar niks help nie. Ek wil weer in die spieël kyk en hou van die persoon wat vir my terugkyk.

– Annie, Groblersdal

Skryf aan ons