Verlede jaar het ons dikwels in die nuus gelees van mans wat hul vrou verkul. Tot my skaamte is ek ook deel van daardie statistieke.

En dis die rede waarom ek vanjaar, 2018, as ’n man binnegaan wat pas geskei is. Ek het geen verweer nie. Vyf jaar gelede het ek my vrou verkul. Dit het alles begin tydens my werk se jaarlikse kongres, en die waansin het ses maande lank aangehou.

Vandag weet ek dit was die laagtepunt van my lewe. Destyds het my vrou my vergewe en ons het met ons huwelik voortgegaan, maar dit was nooit weer dieselfde nie. Nou besef ek dat my vrou heeltyd die prys moes betaal.

Ek het steeds al die werk se kongresse en partytjies bygewoon, maar nooit besef hoeveel angs en onsekerheid dit haar besorg het nie. Ek het my probeer wysmaak dit was ter wille van my loopbaan dat ek al dié geleenthede moes bywoon, maar dit was net verskonings.

My vrou het vyf jaar lank weens my waansin gely voor sy ’n egskeiding aangevra het.

My vrou het vyf jaar lank weens my waansin gely voor sy ’n egskeiding aangevra het. Daardie ses maande het ons huwelik vernietig. Vandag is ons dogter ontneem van die sekerheid van ’n heel en liefdevolle gesin en ek is alleen.

Ek besef nou ek kon destyds soveel meer gedoen het om ons huwelik te red. As ek die horlosie kon teruggedraai het, sou ek dinge soveel anders gedoen het. Maar spyt kom te laat. Ek het die mooiste en belangrikste ding in my lewe verloor.

My vrou, ek is so jammer, mag daar vorentoe net geluk en vreugde in jou en ons dogter se lewe wees. Ek was julle nie werd nie. Hopelik maak my storie ’n paar mans se oë betyds oop. Ek wens ek het vroeër besef hoe ek my huwelik kon gered het.

Deel jou storie
E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.