Ek wil my spesiale ervaring saam met hom deel omdat mense soms vergeet van die klein dingetjies wat hulle doen wat hulle dink ongesiens verbygaan.

Ek was in die 1990’s ’n kelnerin by die restaurant Decameron op Stellenbosch. Die Ruperts het gereeld daar kom eet.

’n Paar van die kelnerinne het hulle bedien. Die Ruperts het ons altyd met die instap herken.

Een aand het Johann saam met ’n groep mense vir aandete by die restaurant aangekom. Ek het in ’n ander afdeling gewerk, maar het ingespring om met hul drankies te help toe dinge besig raak.

Toe ek by die tafel kom, het hy, hoewel hy reeds met sy maaltyd besig was, uit sy stoel opgestaan om my te groet. Ek sal dié bedagsame gebaar nooit vergeet nie.

Hy het daardie aand ’n platsak kelnerin soos ’n miljoen dollar laat voel.