Asseblief, mense, maak veral nou doodseker dat julle spaar- of pensioengeld veilig belê word. Vra my. Ek is ’n weduwee en bly op ’n plattelandse dorpie in die Wes-Kaap. Ek weet eintlik nie waar om te begin nie . . .

My man is in 2011 oorlede en sedertdien is my lewe in stukkies. Alles waarvoor ons gewerk het, is deur Herman Pretorius se skema in 2012 vernietig. Dit nadat ons ons lewe lank elke sent omgedraai het.

Net daardie een keer het ons besluit om ’n kans te waag; dit sou net vir een jaar wees. En toe sterf my man, en kort daarna stort die skema in duie.

Die trustees kon nie betyds die geld onttrek nie. Ek het alles verloor. Elke aand bid ek vir uitkoms en huil myself aan die slaap. Dan droom ek van ’n huisie by die see waar ek skulpies op die strand kan optel, met my kleinkinders by my, seekos braai en na die sonsondergang oor die water kyk sonder om my te hoef bekommer oor die dag van môre.

Wanneer ek dan wakker skrik, oorval die Here se Groot Genade my; dan kan ek nie genoeg dankie sê dat ek gesond is, dat ek ’n dak oor my kop het (al is dit ’n piepklein huurwoonstelletjie) en genoeg om te eet nie (al is dit baie dae tee en brood). Ek skep weer moed om die dag aan te pak.

Vir almal wat swaarkry: Al is dit ’n stryd om te oorleef, moet nooit ophou glo nie; moet nooit moed of hoop verloor nie; pak elke dag aan met oorgawe.

–  TEVREDE

E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Bydraes vir My Storie moenie langer as 300 woorde wees nie.