Maar ná sy sowat 31 keer die sowat 250 km-lange pad van Barrydale af Kaapstad toe moes vat vir ’n verskeidenheid skoonheidsbehandelings, het dié spreekwoordelike lelike eendjie eindelik in ’n swaan verander.

“Ek was baie selfbewus en nie eintlik sosiaal nie,” vertel Yvonne Nell (61), een van die deelnemers aan die kykNET-werklikheidsreeks Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel. “Ek kon altyd voel hoe mense na my kyk,” sê sy.

Dit is al sowat ses maande ná Yvonne deelgeneem het aan die program, wat nog tot onlangs op kykNET uitgesaai is. Maar sedert die Mooimaak-ervaring het haar lewe handomkeer verander en pak sy elke dag nou vol selfvertroue aan, vertel sy aan Huisgenoot.

Sy het haar vaalbruin hare verruil vir ’n bronsbruin kapsel, haar gevlekte tande skitter nou spierwit, haar vel is weer plomp en haar plooie veel minder ná behandelings by ’n velkliniek in Kaapstad.

“Om nou oral te hoor jy lyk stunning, of dat iemand jou nie herken het nie, maak my hart warm,” vertel Yvonne, wat voorheen traumaberading by die plaaslike polisiekantoor gedoen het en ook assistent-matrone by ’n koshuis op die dorp was.

Sowat twee jaar gelede, terwyl sy berading in die gemeenskap gedoen het, het sy ’n behoefte onder die jong meisies met wie sy moes gesels, opgemerk. “Ek het mense begin vra vir bydraes van seep, waslappies, deodorant, tandeborsels, tandepasta en natuurlik sanitêre doekies,” sê Yvonne. Só het haar liefdadigheidsprojek “Something feminine” begin.

En volgens Yvonne doen dié projek selfs nog beter noudat sy met ’n nuwe voorkoms spog.

“Ek is nooit genooi om praatjies te doen nie, maar nou word ek genooi. In die tye wat ons leef, tel uiterlike skoonheid baie en maak dit vir jou deure oop,” sê Yvonne, wat in ’n kinderhuis grootgeword het en self die grondpad van die lewe ken.

Sy kon dit skaars glo toe sy uit duisende inskrywings gekies word as een van die Mooimaak-deelnemers.

“In my wildste drome het ek nooit geweet dit gaan so 'n moeilike resies wees nie. Maar hier kry ek, die plat-op-die-aarde-vrou van die platteland, ’n geleentheid waaroor enigeen net kan droom.”

Groot uitdagings

Yvonne, ’n ma van twee volwasse dogters, het voorheen nooit verder as Worcester bestuur nie. Nou moes sy skielik die hele Kaap vol ry om by die verskillende afsprake uit te kom. Van Stellenbosch en Somerset-Wes tot Constantia en Bellville.

“Ek moes soggens halfvyf die pad vat en omdat dit winter was, was dit donker, koud en soms nat. Ek kan nie juis in die donker bestuur nie en soms moes my oudste dogter, Pamela (38), help met die ryery. Soms was daar baie trane en daar was tye dat ek wou opskop. Maar dan moes ek vir myself sê 'Yvonne, jy kan en moet deurdruk'.”

Sy was ook op moedverloor se vlakte toe skelms by haar man, Tiekie (66), ’n sweiswerker, se bankrekening inbreek en duisende rande steel.

Sy was seker dit was ’n doodloopstraat, want die geryery Kaap toe en terug het hul gesin baie geld kos.

“Maar mense in Barrydale het toe al opgelet dat ek anders lyk en my uitgevra. Ek kan nie veel uitwei nie, maar van die plaaslike ondernemings het my finansieel begin ondersteun en inwoners het my moed ingepraat.”

Yvonne Nell na sy aan die werklikheidsreeks Mooimaak met Clare Wiese-Wentzel deelgeneem het.

Haar nuwe voorkoms
Yvonne, wat nooit grimering gedra het nie, meen dit is uitdagend om die nuwe voorkoms te onderhou. Tog probeer sy haar bes om al die nuwe wenke elke dag toe te pas.

“Die versorging van my vel is nou uiters belangrik, en om my gesiggie elegant in te kleur sonder om goedkoop te lyk verg nogal baie van my. Ek is nog nie so gekonfyt in al die uitdagings nie, maar ek sit nie my voet by die deur uit as my gesig nie ingekleur is nie.”Sy sê tegnieke om die kontoerlyne van haar gesig te beklemtoon is een van die handigste vaardighede wat sy aangeleer het.

“Ek het ook geleer om my onderlaag op my hand te meng en dit met ’n grimeersponsie aan te wend. So spaar jy baie onderlaag en versprei dit dan egalig,” sê Yvonne.

“En dan natuurlik ook bevog, bevog, bevog.”

Volgens Yvonne was al die opofferings en vroeë oggende die moeite werd.

“Ek wil op die hoogste berg klim en uitbasuin: ‘Ek voel so gelukkig, so ongelooflik mooi en alles om my is net mooier, groener en die son skyn sommer helderder.”

Die tweede seisoen van die oormaakprogram is reeds onderweg, het Netwerk24 onlangs berig, en dit sal na verwagting in Julie op kykNET (kanaal 144) begin.