Waar trek ’n mens die streep by familie wat al­ewig geld leen?

’n Mens help – nie omdat jy skatryk is nie, maar omdat jy versigtig werk met jou geld, nie onnodige snert koop nie en nie altyd die duurste handelsmerke aanskaf of uitspattige vakansies hou nie. Kortweg, nie hoër vlieg as wat ons vlerke lank is wat finansies betref nie.

Ons leen toe weer vir mense geld om hul skuld te delg. Terugbetalings word uitgewerk en ooreengekom.

Stom van verbasing sien ons ’n paar maande later hoe hulle duur selfone en onnodige gadgets aangeskaf het, om nie eens te praat van minder goedkoop naweekwegbreke by die see nie.

Genadiglik betaal hulle elke maand die paaiement. Maar ek wonder stilweg of die besef al ooit by hulle opgekom het dat hulle die skuld aan ons vinniger kan delg as hulle ophou om geld op onnodige items te verkwis.

En dat hul gebrek aan selfdissi­pline met geld, en hul spandabelrigheid, dalk juis die rede is waarom hulle alewig in die knyp is.

Wat is my slotsom? Wat finansies betref, is daar in die wêreld net twee soorte mense: Dié wat met geld kan werk en dié wat nie kan nie!

ANONIEM

Skryf aan ons
  • E-pos hgnbrief@huisgenoot.com. Menings wat hier gelug word, is nie noodwendig dié van die ­redaksie nie.
  • Jy kan vir ons kort briewe SMS na 36489. Begin met die woord HGBRIEWE. Elke SMS kos R1.